Engeland-stut smeer Koch heuning om die mond

Vincent Koch

Engeland en Saracens se loskopstut, Maku Vunipola, beskou die Springbokke se Vincent Koch as die beste vaskopstut ter wêreld.  Dit kom nadat die twee die Leinster-skrum verrinneweer het.

Die Suid-Afrikaanse voorspeler het ’n barshou in die Champions Cup-kwarteindstryd teen die Iere gespeel en Leinster moes sewe strafskoppe in die skrumsituasie afstaan. En soos wat almal weet: Wanneer jou skrum eers in tru-rat is, sukkel jy om vorentoe in ’n wedstryd te beweeg.

“Daar word gesê dat jou vaskopstut waarskynlik die belangrikste speler in die span is; en Vincent het dit teen Leinster bewys,” het Vunipola gesê.

“Wanneer hy lus is om te speel en selfversekerd sy teenstanders aanvat, glo ek dat hy die beste ter wêreld is. Wanneer Vincent met selfvertroue speel, glimlag die res van ons groot.”

Die 30-jarige Koch het sy Springbok-buiging in 2015 teen die All Blacks in Johannesburg gemaak, terwyl hy verlede jaar die in Bokspan was wat vir Vunipola se Engeland in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan geklop het.

Vunipola se jonger broer, Billy, het in Augustus opslae gemaak toe hy nie die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging gebuig het nie.

Die 27-jarige agtsteman het staande gebly voor die Gallagher Premiership-wedstryd tussen Saracens en Bristol.

“Hoewel ek ’n persoon van kleur is, is ek steeds meer van ’n persoon vir Jesus. Dinge wat ek al omtrent die beweging gesien het, stem nie ooreen met dit waarin ek glo nie,” het die jonger Vunipola gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Vincent was een van die bok voorspeler helde van die RWC 2019. Die voorspelers het die wedstryd gewen, Kitshoff, Koch, du Toit, Vermeulen, Etsebeth, Mahlerbe etc.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.