Engeland teen All Blacks die hoofdis van naweek se rugbyfees

Met 12 van die wêreld se voorste 14 spanne wat Saterdag teen mekaar speel, is daar ʼn rugbyfees soos min vir geesdriftiges en plekke op Wêreldrugby se ranglys wat ter sprake is.

Die algemeenste vraag, benewens natuurlik Suid-Afrika se wedstryd teen Frankryk, is seker of Engeland Saterdag op Twickenham die All Blacks in die belangrikste van die naweek se jaareind-wedstryde sal kan hokslaan.

Dis uiters onwaarskynlik, maar dit is natuurlik moontlik.

Regtig? Ja, regtig, want sedert 1990 het die All Blacks nog elke jaar, met die uitsondering van 2013, ten minste een wedstryd verloor. Trouens, in 1998 was dit vyf keer ná mekaar teen Australië en Suid-Afrika, en in 2009 het Frankryk en Suid-Afrika (drie keer) teen die All Blacks gewen.

Maar dit was tóé, voordat die All Blacks hul skynbare onoorwinlikheid begin uitstal het. En boonop het hulle al vanjaar teen die Springbokke vasgeval, wat seergemaak en ʼn geskarrel in Nieu-Seelandse rugbykringe veroorsaak het.

Dit sal nie sommer weer gebeur nie.

Die Engelse afrigter Eddie Jones, onder druk ondanks die naelskraapse oorwinning waar die Bokke hul eie grootste vyand was, sal op Twickenham met sy voorspelers die knoop probeer deurhak. Om teen die All Blacks te probeer hardloop en húl soort spel te speel, glo Jones, sal fataal wees.

Sal sy pak, wat deur die Bokke in die eerste helfte verniel is, egter die All Blacks voorlangs in só ʼn mate kan baasraak dat hulle kan wen?

Nee. Dis onwaarskynlik. En selfs dán behoort Kieran Read-hulle genoeg besit te kry om hul make te maak.

Jones bly ʼn slinkse afrigter, maar ʼn mens kan nie sien dat Engeland slegs hul agste oorwinning in 41 wedstryde teen Nieu-Seeland sal behaal nie. Die jongste glips van Nieu-Seeland in 2012 (Engeland wen 38-21) en die groot skrik van 2014 (Nieu-Seeland wen 24-21) sal nie herhaal word nie.

Trouens, Nieu-Seeland behoort maklik te wen en die punteverskil behoort groot te wees.

Spanne ‒

Engeland
15 Elliot Daly, 14 Chris Ashton, 13 Henry Slade, 12 Ben Te’o, 11 Jonny May, 10 Owen Farrell (mede-kaptein), 9 Ben Youngs, 8 Mark Wilson, 7 Sam Underhill, 6 Brad Shields, 5 George Kruis, 4 Maro Itoje, 3 Kyle Sinckler, 2 Dylan Hartley (mede-kaptein), 1 Ben Moon. Bank: 16 Jamie George, 17 Alec Hepburn, 18 Harry Williams, 19 Charlie Ewels, 20 Courtney Lawes, 21 Danny Care, 22 George Ford, 23 Jack Nowell.
Nieu-Seeland
15 Damian McKenzie, 14 Ben Smith, 13 Jack Goodhue, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Ardie Savea, 6 Liam Squire, 5 Brodie Retallick, 4 Sam Whitelock, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Dane Coles, 17 Ofa Tu’ungafasi, 18 Nepo Laulala, 19 Scott Barrett, 20 Matt Todd, 21 Thomas Perenara, 22 Richie Mo’unga, 23 Ryan Crotty.

Afskop: 17:00.
Verwagte weer:
Koud. Moontlikheid van los buie.
Skeidsregter:
 Jérôme Garcès (Frankryk).
Assistent skeidsregters: Jaco Peyper (Suid-Afrika), Marius Mitrea (Italië).
Televisie-skeidsregter: Marius Jonker (Suid-Afrika).

Ierland teen Argentinië, Aviva-stadion, Dublin. Afskop 20:30

Die Ierse afrigter Joe Schmidt erken dat dit vir sy spelers moeilik sal wees om te fokus op die wedstryd teen Argentinië met die kragmeting met die All Blacks wat aanstaande week moontlik die ranglys van Wêreldrugby kan omkrap wanneer dié twee voorste spanne mekaar in Dublin takel.

Schmidt sal ook daarvan bewus wees dat Argentinië die Iere in die 2015-kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi met 43-20 geskok het, en is veral  senuweeagtig oor die losskrums en ook die agterspel van die Pumas.

Dit sal sekerlik taai wees, maar selfs die vlakstaande aanvalpatroon van die Argentyns en hul gewilligheid behoort nie goed genoeg te wees in die wedstryd wat taai sal wees maar wat Ierland oortuigend sal wen nie.

Spanne ‒

Ierland
15 Jordan Larmour, 14 Keith Earls, 13 Robbie Henshaw, 12 Bundee Aki, 11 Jacob Stockdale, 10 Jonathan Sexton, 9 Kieran Marmion, 8 Christiaan Stander, 7 Sean O’Brien, 6 Peter O’Mahony, 5 James Ryan, 4 Iain Henderson, 3 Tadhg Furlong, 2 Rory Best (kaptein), 1 Cian Healy. Bank: 16 Sean Cronin, 17 Jack McGrath, 18 Andrew Porter, 19 Devin Toner, 20 Dan Leavy, 21 Luke McGrath, 22 Joey Carbery, 23 Andrew Conway.
Argentinië
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Orlando, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicholas Sanchez, 9 Tomas Cubelli, 8 Javier Ortega Desio, 7 Guido Petti, 6 Pablo Matera (kaptein), 5 Tomas Lavanini, 4 Matias Alemanno, 3 Santiago Medrano, 2 Agustin Creevy, 1 Santiago Garcia Botta. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Juan Pablo Zeiss, 18 Lucio Sordoni, 19 Rodrigo Bruni, 20 Thomas Lezana, 21 Gonzalo Bertranou, 22 Joaquin Diaz Bonilla, 23 Matias Moroni

Afskop: 19:30.
Verwagte weer: Koud met die moontlikheid van reën.
Skeidsregter:
 Nic Berry (Australië).
Assistent-skeidsregter: Angus Gardner (Australië), Ludovic Cayre (Frankryk).
Televisie-skeidsregter: David Grashoff (Engeland).

Wallis teen Australië, Principality-stadion, Cardiff. Afskop: 19:20

Wallis en Australië speel oor tien maande in dieselfde afdeling in die Wêreldbeker-toernooi.

Vir Wallis is dit belangrik om die spook van 13 agtereenvolgende neerlae en ʼn powere rekord deur die jare teen Australië te verjaag.

Hulle behoort dit reg te kry teen die Wallabies, wat tot dusver vanjaar net drie van hul nege wedstryde gewen het en benewens hul baljagters Michael Hooper en veral David Pocock nie veel om die lyf het wat ander spanne vrees nie.

Dit is interessant dat die losskakel Dan Biggar op die bank begin en daar sal druk op sy plaasvervanger in die opdrafspan, Gareth Anscombe, wees om sý plek te behou. Terwyl sy senuwees ongetwyfeld meer as gewoonlik sal pla, sal Bernard Foley in die Wallaby-trui ook hoop om Michael Cheika te oortuig dat hy steeds die beste losskakel in Australië is.

Dit bly maar ʼn swakplek in die Aussies se mondering en die wedstryd kan maklik deur die beste van die twee losskakels op die dag gewen word.

Wallis behoort die reeks neerlae met ʼn stewige vertoning te kan verbreek en hul eerste oorwinning in 14 wedstryde sedert 2008 oor die Aussies te behaal.

Spanne ‒

Wallis
15 Leigh Halfpenny, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Josh Adams, 10 Gareth Anscombe, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Dan Lydiate, 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Adam Beard, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Rob Evans, 18 Dillon Lewis, 19 Cory Hill, 20 Ellis Jenkins, 21 Tomos Williams, 22 Dan Biggar, 23 Liam Williams.
Australië
15 Dane Haylett-Petty, 14 Israel Folau, 13 Samu Kerevi, 12 Kurtley Beale, 11 Sefa Naivalu, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Jack Dempsey, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Allan Alaalatoa, 2 Tolu Latu, 1 Scott Sio. Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 Sekope Kepu, 18 Taniela Tupou, 19 Rob Simmons, 20 Ned Hanigan, 21 Nick Phipps, 22 Matt To’omua, 23 Jack Maddocks.

Afskop: 19:20
Verwagte weer: Koel, met ʼn sterkerige wind en buie.
Skeidsregter: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland).
Assistent-skeisregters: Romain Poite (Frankryk), Brendon Pickerill (Nieu-Seeland).
Televisie-skeidsregter: Simon McDowell (Ierland).

Skotland teen Fidji, Murrayfield. Afskop: 16:30

Skotland, sewende op die Wêreldrugby-ranglys, behoort tuis te sterk te wees vir die opwindende Fidji (10de) met die dissipline van die Suidsee-spelers wat hulle, soos altyd, kan kortwiek.

Die wisselvalligheid van die Fidjiane wat nie altyd behoorlik gefokus is nie, kan ook ʼn rol speel ‒ veral op toer. Maar Skotland sal onthou dat hulle verlede jaar in Suva geklop is, al het hulle vyf van die sewe wedstryde tot dusver teen Fidji gewen.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is daar die teenwoordigheid van WP Nel as vaskop in die Skotse span, met die voormalige Goue Leeus- en Lions-kaptein Josh Strauss wat op die bank is.

Huw Jones, oud-senter van die Stormers, is weggelaat ná sy twee verdedigingsblapse verlede week wat Skotland moontlik die wedstryd teen Wallis gekos het

Italië teen Georgië, Stadio Artemio Franchi, Florence. Afskop: 16:00

Italië speel tuis teen Georgië in ʼn wedstryd wat veral vir albei spanne van die uiterste belang is.

Georgië probeer al hoe lank om in die Sesnasies-reeks plek te kry, en Italië het feitlik die houtlepel oor die jare hul eie gemaak.

ʼn Goeie oorwinning vir die voormalige Sowjet-republiek kan die deurslag in die raadsale gee in die wedstryd waar die spanne se Wêreldrugby-rangorde met ʼn enkele plek verskil.

Ander wedstryde ‒

Die naweek speel die VSA se Arende ook teen Samoa, die Franse Barbarians teen Tonga, en Roemenië teen Portugal in kragmetings tussen van die wêreld se ander spanne wat onder die voorstes tel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Die All Blacks gaan Engeland vandag ‘n rugby lessie leer ! Hier kom ‘n ‘DING !!!!’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.