Grand Slam: ‘Engeland wen teen tweedeliga-agterblyers’

Engeland logoDie Britse, en veral die Engelse media, is breedsprakerig opgewonde oor Engeland se eerste Grand Slam-sukses ná 12 dorre seisoene. Maar dit is heeltemal voortydig, maan die hoofsportskrywer van die Daily Mail in Londen, Oliver Holt.

Dit was niks meer as ʼn wen van die tweede liga nie, skryf hy in die New Zealand Herald. Die drome van die hergeboorte en hernuwing in Engelse rugby is nonsens. Al wat hulle gedoen het is om skoonskip te maak in kompetisie vir Wêreldrugby se agterblyers.

Holt wys daarop dat Engeland, weliswaar met ʼn paar spanveranderings, hulle laaste Grand Slam-hekkie Saterdag sukkelend oor is teen Frankryk wat by die Wêreldbeker 62-13 deur die All Blacks geklop is – en dít was heel moontlik ʼn beter Franse span as Saterdag s’n.

Die Wêldbekertoernooi het gewys dat die Sesnasiesreeks die arm man se weergawe van die Suide se Rugbykampioenskap is, en staaf dit verder deur daarop te wys dat Ierland 20-43 teen die Suide se vierde beste span, Argentinië, verloor het.

“Gegrond op wat ons in die oninspirerende Sesnasies gesien het, het die gaping tussen  die Suide en die Noorde eerder toegeneem as wat dit vernou het.

“Dink julle Nieu-Seeland, Australië, Suid-Afrika en Argentinië sou bekommed wees oor wat hulle die afgelope maande gesien het? Laat ons onseelf nie bluf nie.

“Natuurlik sal ons opgewonde raak oor die oorwinnings, mar daar is beperkinge op wat dit in die wyer konteks beteken.

“Laat ons eerlik wees: dit was ʼn glanslose, oninspirerende Sesnasies waar Engeland hul veldtog teen ʼn baie swak Skotland begin het in ʼn wedstryd wat net onthou sal word vir die swak rugby wat gespeel is – en hulle het dit afgesluit een ʼn Franse span wat ʼn swak namaaksel is van die groot spanne wat dié land al verteenwoordig het.”

Holt het wel lof vir baie van wat Eddie Jones binne net meer as drie maande met die Engelse span vermag het, en hy gee toe dat Engeland nou op die regte pad is. Tog sien hy swarigheid voorlê in die drie toetse wat  Engeland in Junie op hul sogenaamde uitgaande toer in Australië moet speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.