Engeland worstel vir 40 minute teen Italië

england-logoEngeland se rugbyspan word in baie kringe as die beste span in die wêreld beskou, maar die Rose het Sondag teen Italië van hul swakste rugby in jare gespeel.

Nadat Engeland baie gelukkig was om Frankryk en Wallis in sy eerste twee wedstryde in vanjaar se Sesnasiesreeks te klop, het hy Sondag op Twickenham Italië met 36-15 getroef nadat die Azzurri rustyd nog met 10-5 voor was.

Ná die onlangse Wallis-stryd het die Engelse afrigter, Eddie Jones, gesê het dat hy nou moeg daarvan is om sy kom-uit-die-tronk-kaartjies – verwysend na Monopoly – te gebruik. Sondag moes hy weer een nader trek.

Die vurige Italianers het Engeland in die eerste helfte oorhoops gehad en met slim stukkies deur die agsteman en kaptein, Sergio Parisse, en die skrumskakel, Edoardo Gori spel –wat heeltemal binne die reëls was.

Die Italianers het nie by van die losskrums meegeding nie en aangesien daar geen onkantlyn was nie, het Parise en Gori tussen die Engelse skakelpaar baljaar. Bygesê, die Fransman Jerome Poite was die skeidsregter.

Jones het na alle waarskynlik vuur in die kleedkamer gemaak en ná rustyd was die voorspelers op die voorvoet en het Danny Care, George Ford, Elliot Daly, Owen Farrell en Mike Brown agterlangs gedy.

Binne ʼn japtrap was Engeland met 17-10 voor en kon die skare begin sing, maar dit was van korte duur nadat die Italianers se kwiksilwervleuel Michele Campagnaro, verby Ford, Jamie George en om Mike Brown gewals het.

Die Engelse het die tempo gelig, die bal baie goed versprei en nog vier drieë gedruk om die eindtelling heel vleiend te maak.

Die Engelse is steeds onoorwonne ná 17 toetse, maar as hulle soos in die eerste helfte speel, kan hulle teen die Skotte en Iere vasval.

Puntemakers –
Engeland (7) 36: Drieë: Dan Coles, Danny Care, Elliot Daly, Jack Newell 2, Ben Te’o.  Doelskopppe: Owen Farrell 3.
Italië (10) 15 : Drieë: Giovanbattista Venditti, Michele Campagnaro. Doelskop: Tommaso Allan. Skepdoel: Allan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.