Engels-eentalige skeidsregters bevraagteken

Romaine Poite - stel voorbeeld. (Foto: Zimbio)

Romaine Poite – stel voorbeeld. (Foto: Zimbio)

Die voortgesette gebruik van Engels-eentalige skeidsregters in internasionale rugby word bevraagteken deur ‘n Amerikaanse rugbyskrywer.

Paul Tait, ‘n bydraer op die webwerf Americas Rugby News, meen die wêreld se voorste skeidsregters moet meer as net Engels magtig wees wanneer hulle in toetse blaas.

Hy noem die afgelope Saterdag se Sesnasiewedstryde as voorbeeld en verwys na ‘n woelige gesprek in die sosiale media oor die blasers se gebrekkige taalvaardigheid.

Die Fransman Romaine Poite, wat die toets tussen Skotland en Ierland hanteer het, het deurentyd Engels gepraat met die twee spanne wat dit self praat. Trouens, “hy het uit sy pad gegaan om akkurate Engels te besig”.

In die ander twee kragmetings het die skeidsregters – Angus Gardner (Frankryk teen Engeland) en JP Doyle (Italië teen Wallis) – daarteenoor deurgaans Engels gepraat met spanne wat dit nie magtig is nie.

Die skrywer sê dit was duidelik dat die Engelse kaptein Dylan Hartley Gardner veel beter as Frankryk se Guilheim Guirado verstaan het.

Sergio Parisse, die Italiaanse kaptein, het in Spaans-sprekende Argentinië grootgeword, sy ouers is Italiaans en hy speel in Frankryk rugby. Engels is dus vierde op sy taallysie.

Van opperste belang

Sake staan nie anders in die Amerikas-rugbykampioenskap nie. Van die deelnemende spanne praat drie Spaans, twee Engels en een Portugees. Tog is al die afgelope naweek se wedstryde in Engels beheer.

“Wêreldrugby (WR) se veldtog om rugby skoon te maak, en waarin blasers gerespekteer moet word, verg niks minder nie as uitnemende kommunikasie. Dis van die opperste belang dat die beamptes die bevele ken en gebruik … die blaser moet dit duidelik en verstaanbaar aan die spelers oordra … dit was verreweg nie die geval met Gardner en Doyle nie.”

Tait reken dis selfs belangriker dat persoonlike waarskuwings geskied in ‘n taal wat die betrokke speler verstaan. Hy stel voor WR moet die bevele wat die meeste gebruik word, uitwys en skeidsregters moet geleer word om dit in die taal ter sake oor te dra.

“As Nigel Owens werklik die wêreld se voorste skeidsregter is, laat hom die bevele in Italiaans leer, en dit oefen in die Pro12-wedstryde waarin Treviso en Zebre speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zahn ·

Elke munt het twee kante. Die nie engelssprekende manne kan gerus die rooi taal aanleer. Ons moes, en vandag nog moet ons. Selfs op Stellenbosch..

Nico K ·

Seker bietjie onprakties om te verwag dat ‘n skeidsregter alle tale moet kan praat van alle rugbyspelende lande. Daarvoor is daar handseine om te oortreding aan te dui. Ek dink in elkgeval daar word heeltemaal te veel deur skeidsregters gepraat. Ek is altyd so verbaas as skeidsregters die spelers waarsku dat die speler moet oppas om onkant te gaan ens. Dit klink soos ‘n afrigter. Die speler moet mos daai goed weet en as hy onkant gaan dan blaas die skeidsregter. Al waar dit moeilik is as ‘n kaptein wil appelleer na die TV skeidsregter.

Jack Russl ·

Ek stem saam met jou dat die skeidsregters te veel met die spelers en kapteine praat. As jy op daardie vlak speel hoef die skeidsregter jou glad nie af te rig nie.

Indien daar onduidelikheid is moet die kaptein tog met die skeidsregter kan kommunikeer. Dit is heeltemal onprakties vir alle top skeidsregters om elke land se taal te moet leer. Daar is deesdae mos nie meer lynregters nie, hulle is nou assistent skeidsregters. So deel dit so in dat net minste een van die 3 ‘n taal van elke land kan praat.

Anton ·

…Nico…ek wil ook weet waarom waarsku n skeidsregter altyd n speler dat hy moet oppas om onkant te gaan,,,dalk was dit indie anderkant se plan om die ou onkant te kry…nou word hy gewaarsku…dit maak my moeg…

Hennie ·

Paul Tait laat die VSA eers ‘n krag in wereld rugby word voor jy jou eise stel, maar een van die dae na Trump se muur behoort die Spaans nie ‘n pobleem te wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.