Engelse moet oppas dat hulle nie in ʼn kopstrik trap nie

Vra maar vir enige rugbyspeler: Rugby is ʼn spel wat in groot mate in die kop lê.

Dit is hoekom oorgerustheid selde op die veld omgekeer kan word, hoekom middelmatige spanne teen grotes verras soos, onder meer, Japan teen die Bokke in die 2015-Wêreldbekertoernooi; of die baie swak Oxford Universiteit teen die 1969/’70-Springbokspan en die Sunwolves ʼn paar weke gelede teen die Lions; en wat van die hartseerneerlaag van die 1972-Bokke teen ʼn uiters swak Engeland?

Dit is hierdie ingesteldheid wat kan meewerk om Engeland Saterdag op Ellispark te pootjie. Uit die mediakommentare van sommige van hul voorste spelers, is daar die eenvoudige antwoord oor wat hulle van die Springbokke verwag: “Ons weet hoe hulle speel. Ons weet wat om te verwag.”

Regtig? Glo hulle régtig die soort hoogskop- en stormtaktiek Saterdag teen Wallis was die Bokke se aanvanklike wedstrydplan voordat die veld sopnat bevind is?

Daar is geen twyfel dat die Suid-Afrikaanse spanne vanjaar en ook verlede jaar in die huishoudelike kompetisies en in Superrugby meer as in die verlede hardloop nie.

Ja, die hardlooppatroon moet (moontlik oor nóg twee of drie seisoene) veel verder verfyn word en ja, die Bokspan sal eintlik maar vreemd vir mekaar wees, maar dit is reeds ʼn “nuwe” benadering wat deur al die plaaslike franchise’e se spanne, en ook die Cheetahs in die Pro14, aangeneem is en toegepas word.

Ook Engeland se afrigter Eddie Jones praat nie eintlik só dat ʼn mens kan aflei hy dink die Bokke gaan veel hardloop nie.

Jones is ʼn ou kalant, ken Rassie Erasmus al lank en het al talle kere spanne teen dié van Erasmus afgerig. Jones verwag weer tradisionele Springbokrugby met die klem op hegte verdediging, ʼn fisieke benadering, goeie vaste fasette en die gejaag agter die (geskopte) bal aan.

♦ Soos heelwat ander spanne, verkies Engeland dit om in Umhlanga Rocks, net buite Durban, te bly. Daar is plusse sowel as negatiewe aspekte daaraan verbonde ‒ en dis nie verniet dat die Natalse afrigter van destyds, Ian McIntosh, suurstof vir sy spelers tydens die wedstryd gereël het toe hulle die Blou Bulle in Pretoria in die 1990-Curriebekereindstryd geskok het nie!

Eddie Jones gaan egter verder. Sy span sal die hele tyd in Umhlanga Rocks gesetel wees en vir al drie toetse ʼn dag voor die toets na onderskeidelik Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad vlieg.

Miskien is die lekker kalmerende seegedruis snags en die baljaar in die branders egter bydraend tot die kop-ding waarteen Engeland sal moet waak. Té veel ontspan voor ʼn wedstryd kan sy tol eis …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jannie ·

Die Engelse moet net die DOOM onthou…vir die kokkerotte….die Natal Prawns!!

Callie ·

Miskien het hulle die game klaar gewen as gevolg van die game wat die politici en Rassie met kwotas speel. Dit gaan vir baie lank nog baie lelik en swaar wees vir die wat nog glo in bokke

Danie ·

Stem saam. Al wat die springbokke uit die hoed kan haal is ‘n kwota haas. Kwota hase is oor die algemeen baie lui en eiegeregtig. En blameer alles en almal vir hulle onbevoegdheid.

bloues ·

Ek verwag dat die Bokke sal wen. Nie omrede hul ‘n beter span is nie, maar omdat Jones sy wereldbeker kaarte nie nou al sal wys nie.

@Bloues ·

Ek dink jy maak n fout…daai kwota span is erg sonder ervaring veral in die agterslyn…
Hoop die Engelse trap hul goed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.