Engelse Premierliga: Faf blink soveelste keer uit

Faf de Klerk in aksie (Foto: The Rugby Paper, Twitter)

Die waarde wat die rits Suid-Afrikaanse rugbyspelers tot die Engelse Premierliga voeg, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Week na week troon hulle uit, week na week is hulle die voorste puntemakers, week na week sloof hulle hulself af, week na week word hul lof besing… en week na week styg hul bankbalanse.

In Saterdag se reeks wedstryde, met die internasionale spelers van Engeland, Wallis, Skotland, Ierland, Frankryk en Italië wat hul pligte in die Sesnasies-reeks moes nakom, het die kollig weer helder op die Suid-Afrikaners geskyn.

Een van die grootste sterre was die Springbokskrumskakel Faf de Klerk, wat 11 punte (ʼn drie en drie doelskoppe) tot Sale Sharks se oorwinning van 26-24 oor Gloucester bygedra het.

De Klerk het die skopwerk by die beseerde losskakel AJ McGinty tydens die wedstryd oorgeneem en het klokslag die kol getref.

Sale gaan baie diep moet kopkrap om De Klerk te vervang wanneer hy aanstaande seisoen na Johann Ackermann se NTT Docomo Red Hurricanes in Japan skuif.

Nog twee Suid-Afrikaners, Jean-Luc en JP du Preez, het drieë gedruk om Sale tot ʼn oorwinning van 26-24 oor Gloucester aan te spoor.

Die twee ander Du Preez-broers, Dan en Robert, asook Rohan Janse van Rensburg en Coenie Oosthuizen het ook die oog vir Sale getref.

* Die Leicester Tigers, wat deur die oud-Blou Bul-flank Hanru Liebenberg aangevoer is, het ʼn sege van 47-28 oor London Irish behaal om hul voorsprong in die liga te behou.

Saam met Liebenberg het die Springboklosvoorspeler Jasper Wiese en die slot Eli Snyman uitgetroon.

Die oud Haai-agterspeler Benhard Janse van Rensburg het ʼn drie vir die Exiles gedruk.

* Die Worcester Warriors het verras toe hulle Exeter Chiefs met 35-31 geklop het.

Die oud-Haaiflank Jacques Vermeulen en die oud-Blou Bulle-flank Jannes Kirsten, wat deesdae slot speel, het voorlangs die vuur gestook vir die Exeter Chiefs.

Die Leicester Tigers (76) is gerieflik voor in die liga en word gevolg deur Saracens (64), Harlequins (58), Exeter Chiefs (56), Gloucester (54), London Irish (53) en Sale Sharks (62) wat almal steeds in die wedloop is om ná 40 weke vir die eindstryd te kwalifiseer.

Saterdag se uitslae: Leicester Tigers 47, London Irish 28; Sale Sharks 26, Gloucester 24; Saracens 36, Newcaste Falcons 21; Worcester Warrios 35, Exeter Chiefs 31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.