Engelse Premierliga: Rassie-hulle sit met tameletjie

Argieffoto van Faf de Klerk in die Engelse Premierliga. (Foto: XAVIER LEOTY / AFP)

Die vreugdevure brand hoog in die rugbykampe van die Sale Sharks in Manchester en Harlequins in Londen, maar dalk skep dit vir Rassie Erasmus en die res van die Springbok-afrigtingspan ʼn paar kopkrappers.

Die Sale Sharks het Vrydagaand hul plek in die uitspeelwedstryde (halfeindronde) van die Engelse Premierliga op 19 Junie vasgeknoop (eindstryd op 26 Junie) toe hulle die Bristol Bears met 22 – 15 geklop het.

Dit is die eerste keer sedert 2006, toe Sale die liga gewen het, dat die span weer in die uitspeelrondes betrokke sal wees.

En wie moet die span bedank?

Die hele rits fisieke Suid-Afrikaners wat weekliks uittroon met Faf de Klerk die groot planmaker agterlangs.

Harlequins het Saterdag hul plek vasgemessel toe hulle Bath met 44 – 33 geklop het. Dit is die eerste keer in sewe jaar dat Harlequins weer by die uitspeelwedstryde betrokke sal wees.

Soos sake ná Saterdag se kragmetings staan, is die Bristol Bears (76 punte) steeds voor, gevolg deur Sale (68), die Exeter Chiefs (68) en Harlequins (66) om die eers vier plekke te vul en nie meer ingehaal kan word nie.

Die Exeter Chiefs speel Sondagmiddag teen die Newcastle Falcons en behoort Sale weer uit die tweede plek te druk.

Terug by die Bok-bestuur se oënskynlike tameletjie en moontlike beserings.

Na verwagting sal Erasmus-hulle vyf tot ses spelers van Sale (Faf de Klerk, Coenie Oosthuizen, Akker van der Merwe, Lood de Jager, Cobus Wiese en een of twee van die drie Du Preez-broers, Jean-Luc, Dan of Robert) by die Bokgroep betrek.

Maar as Sale tot die eindstryd op 26 Junie sou deurdring, sal sy SA spelers die eerste toets teen Georgië op 2 Julie misloop.

André Esterhuizen van Harlequins is glo ook op die Bokke se kortlys (Erasmus-hulle gaan Saterdagaand 45 spelers aanwys), wat beteken dat hy dalk ook nie voor die einde van Junie na Suid-Afrika kan reis nie.

In Frankryk kan Cheslin Kolbe (Toulouse) en Eben Etzebeth (Toulon) dalk ook ʼn rukkie langer in die land aanbly (Franse eindstryd ook op 26 Junie) en dus die eerste toets teen Georgië misloop.

Erasmus het reeds met die klubs gesels, maar wees maar verseker dat hulle hul beste spelers vir ʼn uitspeelwedstryd sal kies, want dis hoekom hulle die spelers ten duurste betaal en die toetsvenster begin eers die daaropvolgende week.

Aan die ander kant, nog nooit vantevore is 45 Springbokke gekies nie en Erasmus-hulle kan maklik drie verskillende spanne inspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.