Engelse Premierliga: SA rugbyspelers kry maar koud

Foto: Odd Andersen/AFP.

Die rits Suid-Afrikaanse rugbyspelers wat in die Engelse Premierliga speel, het die afgelope naweek in yskoue weer en op nat velde soms die wind ook van voor gekry.

Die Sale Sharks, wat met die drie Du Preez-broers Robert, Jean-Luc en Daniel spog, asook die oud-Cheetahs-slot JP du Preez (geen familie nie), was Vrydagaand aan die ontvangkant toe Bath die kragmeting met 27-22 gewen het.

Faf de Klerk is eers in die tweede helfte opgestuur, maar Bath het toe reeds die hef in die hande gehad.

Harlequins, met die stormram André Esterhuizen (hy het ʼn drie gedruk) aan die spits, het tot die vierde plek op die punteleer opgeskuif ná ʼn puik sege van 37-24 oor die Leicester Tigers.

Quins (28 ligapunte) blaas in die nekke van die Bristol Bears (34), Exeter Chiefs (33) en Sale Sharks (ook 28).

Die oud-Springboksenter Jaco Taute het die Tigers aangevoer, wat ook vir Cyle Brink (hy het ʼn drie gedruk), Luan de Bruin en Hanro Liebenberg in die span gehad het, asook die twee Argentynse Poemas, Julian Montoya en Tomas Lavinini.

Maar die res van die span was vol jongelinge, want toe die veteraanstut Dane Coles in sy 250ste wedstryd opgestuur is, het hy met meer vertonings in ʼn Leicester-trui as die res van die span gespog.

Gloucester, wat nie enige Suid-Afrikaner in die opdrafspan gehad het nie (straks die eerste keer sedert Johan Ackermann die pad Japan toe gevat het), is steeds laaste nadat hulle met 18-17 deur Bristol geklop is.

Die naweek se uitslae: Harlequins 37, Leicester Tigers 24; Execeter Chiefs 26, London Irish 3; Gloucester 17, Bristol Bears 18;  Sale Sharks 22, Bath 27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.