Engelse red wenrekord net-net; Stander druk drie keer

CJ Stander - driekuns teen Italië.

CJ Stander – driekuns teen Italië.

Engeland het sy sestiende opeenvolgende oorwinning behaal toe hy Wallis met ʼn doel vier minute voor die einde verbygesteek en 21-16 gewen het.

Die drie deur die vleuel Elliott Daly was verdiend nadat die Engelse van hulle eie doellyn ontsnap en toe vir ʼn paar minute gereeld spasie aan die buitekant geskep het. Die drie moes eenvoudig kom.

Die doelskop van die kantlyn af deur Owen Farrell het Engeland die oorsprong van vyf punte gegee. Dit het die Walliesers in die laaste drie minute gedwing om eerder te gaan druk as om ʼn strafskop te probeer afdwing.

Engeland het dit miskien verdien omdat hy meer gapings kon skep. Wallis, wat die tweede helfte beter daaraan toe was as Engeland nadat hy rustyd 13-8 voor was, kon net eenvoudig nie deur die Engelse verdediging dring nie.

Wallis se ietwat stereotipe speelstyl en ʼn mindere vermoë om soos die Engelse gapings wyd te skep, het Wallis verhinder om die deurbraak ondanks goeie besit en heelwat fases te maak.

In die geheel was dit ʼn heerlike wedstryd. Daar is heelwat deur albei spanne gehardloop, hard om besit gestoei en van die duikslae was ongelooflik hard.

Dit was ʼn ware toets soos dit gespeel moet word – en Wallis het gewys dat Engeland geklop kán word. Hulle moet nog by die Iere en die Skotte verbykom.

Puntemakers –

Wallis (13) 16: Drie Liam Williams: Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoele: Halfpenny 3.
Engeland (8) 21: Drieë: Ben Youngs, Elliott Daly. Doelskoppe: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell 3.

♦   Met die flank CJ Stander, aan die spits met ʼn driekuns, het Ierland Saterdagmiddag in Dublin in die tweede helfte heeltemal beheer oorgeneem en Italië 63-10 geklop.

Ierland het nege drieë teen een gedruk en al nege verdoel. Benewens Stander het Craig Gilroy, Ierland se plaasvervanger-vleuel, ook ʼn driekuns behaal.

Stander, wat verlede week teen Skotland in sy span se neerlaag ook geskitter het as baljagter, het hierdie keer die bal talle kere gedra. Hy was letterlik oral by en sy eerste drie het gekom toe hy op die vleuel opgeduik het.

Italië het in die eerste helfte nog moedig teenstand gebied en self ʼn keer of wat gevaarlik aangeval. Maar moed en vasberadenheid is op hierdie vlak nie genoeg teen ʼn span soos die Iere nie.

Hier teen die einde het die Iere amper na willekeur deurgedraf.

Puntemakers –

Ierland (28) 63:  Drieë: CJ Stander 3, Craig Gilroy 3, Keith Earls 2, Garry Ringrose. Doelskoppe: Paddy Jackson 9.
Italië (10) 10: Drie: Strafdrie. Doelskop: Carlo Canna

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

‘n Dom skop van Wallis , in die middelveld af,nadat hul die bal afgeneem van Engeland naby hul doellyn het ‘n geleentheid vir Engeland geskep om ‘n teenaanval te loods.

Waarom Wallis nadat hul talle kere tevergeefs probeer het om Engeland se doellyn oor te steek, nie ‘n skepskop ot twee, ala Jannie de Beer, probeer het sal net hulle weet.

Dit is die tweede keer namekaar dat Engeland die kastaings uit die vuur krap en ‘n wedstryd in die doodsnikke daarvan wen.

Stander was vir Ierland eenvoudig skitterend en toon net hoe groot verlies hy vir Springbokrugby is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.