Engelse reeks: Hou die voete maar plat op die aarde

Daar is niks fout met nuutgevonde selfvertroue nie, maar wanneer dit op amperse  arrogansie in sekere mediakringe uitloop terwyl die span nog nie eers gekies is nie, kan jy baie maklik in die gat val wat jy vir jouself gegrawe het.

Ja, Rassie Erasmus het oplaas die leisels by Allister Coetzee geneem; en ja, die Stormers het die Bulls geklop, maar daar moet nog baie water in die see loop.

Om te voorspel dat die Bokke die reeks met 3-0 sal wen en om te sê dat die Engelse nie diepte het nie, is vir blote moeilikheid soek. Hulle het dan juis verlede jaar met hul tweede span (16 Engelse was saam met die Britse en Ierse Leeus in Nieu-Seeland) die Argentynse Poemas in Argentinië geklop.

Dus, wanneer die Engelse rugbyspan op 9 Junie in die eerste van drie toetse teen die Springbokke op Ellispark speel, kan die Bokke maar gerus ʼn paar  lesse uit die verlede neem – om presies te wees: op 3 Junie 1972 en ook op 4 Junie 1994, albei kere teen die einste Engeland.

Ja, in 1972 was dit in die amateurdae. En dit is so – die afrigter Ian McIntosh is nie lank ná die reeks teen die Engelse in 1994 die deur gewys en met Kitch Christie vervang nie.

Die Bokke was in 1972 op die kruin van die golf nadat hulle die All Blacks in 1970 met 3-1 in die reeks geklop het, die reeks in 1971 teen Frankryk gewen het en toe onoorwonne was op die toer in 1971 na Australië, wat drie toets-seges oor die Wallabies ingesluit het.

Van die Bokke, soos Frik du Preez, Mof Myburg en Mannetjies Roux, het halt geroep. Maar die Springbokke het die Engelse hopeloos onderskat omdat Engeland laaste in die Vyfnasiesreeks van 1972 geëindig het en net twee drieë in vier toetse kon druk.

Die nasionale keurders het rondgeval en verskeie spelers uit posisie gekies, soos Ray Carlson op heelagter, Tonie Roux op senter en Dawie Snyman op losskakel met Piet Greyling in sy 25ste (en laaste) toets as die nuwe Bok-kaptein.

Die Engelse moes boonop agt wedstryde binne ʼn maand by die kus en op die Hoëveld speel en het gesukkel om die Westelike Provinsie (9-6) en die SA Federasie (11-6) te klop en het met 13-elk teen Noord-Transvaal gelykop gespeel. Maar toe wen hulle die enigste toets met 18-9.

In 1994 het die Engelse die eerste toets op Loftus Versfeld met 32-15 gewen nadat daar weer rondgeval is en ʼn “verkeerde span” gekies is. Sake is darem in die tweede toets op Nuweland reggestel.

En nou staan ons voor dieselfde deur.

Vergeet dus maar eers van die oud-Engelse kaptein en afrigter, Martin Johnson, se praatjies dat daar nie diepte in Engelse rugby is nie. Vergeet ook daarvan dat Engeland vanjaar tweede laaste in die Sesnasiesreeks was, of dat Eddie Jones nie sy beste span vir die toer kies nie.

Onthou gerus dat die Engelse Saxons, die Engelse naasbestes, die SA “A”- span (wat deur Johan Ackermann afgerig is) in 2016 met 2-0 in ʼn reeks geklop het; en dat Engeland voor vanjaar se terugslae 18 opeenvolgende toetse gewen het.

En onthou gerus 1972 en 1994.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rollie ·

Ek voorspel ons sal die reeks 2-1 wen maar ook net omdat ons tuis speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.