Engelse rugbytoer: Jones gaan sy hande vol hê

Eddie Jones – gaan sy hande vol hê. (Foto: Twitter)

Die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, sal die wysheid van Salomo moet hê wanneer die Engelse in Junie in drie toetse teen die Springbokke speel.

Hoekom? Want hy is sonder 20 van sy beste spelers. Hy het Danny Cipriani, een van rugby se stoute seuns ná byna drie jaar in die wildernis gekies asook die oudrugbyligaspeler Denny Solomona, wat gereeld in die sop is, en die Hurricanes se kaptein en flank, Brad Shields, hoewel laasgenoemde nog nie ʼn enkele wedstryd vir enige Engelse span gespeel het nie.

Daar is ook ʼn paar ander spelers in die groep wie se dissiplinêre rekords nie vlekkeloos is nie, soos Joe Marler en Kyle Sinclair.

Soos verwag, is die losskakel/senter Owen Farrell die kaptein van die toerspan in die afwesigheid van die beseerde Dylan Hartley.

Daar is sewe nuwelinge in die groep van 34: Ben Earl, Jonny Hill, Dan Robson, Shields, Ben Spencer, Cameron Redpath en Jack Willis.

Van die bekendste spelers wat gerus word, is Danny Care, Dan Cole, James Haskelll en Richard Wigglesworth.

Sleutelspelers wat beseer is, sluit in Hartley, Manu Tuilagi, Anthony Joseph, Jack Nowell, Nathan Hughes en Courtney Lawes.

Kan die Engelse die Springbokke klop?

Die kerngroep is steeds daar – manne soos Mike Brown, Elliot Daly, Ben Te’o, Farrell en Ford agterlangs en harde voorspelers soos Billy en Maku Vunipola, Maro Itoje, George Launchbury en Chris Robshaw voorlangs.

ʼn Hele paar van hulle is vertroud met Suid-Afrikaanse spelers en -toestande. Die Engelse sal byna drie weke kan voorberei en sal ook ʼn opwarmwedstryd teen die Barbarians speel.

Hulle sal dus baie beter voorbereid as die Bokke wees, want daar is nog geen aanduiding wanneer die Springbokspan gekies sal word nie.

Maar as Rassie Erasmus die regte span kies en die Bokke die spel vinnig maak, kan hulle die reeks beklink.

♦ Jones het ook aangekondig dat die Aussie Scott Wisemantel (wat Jake White by Montpellier bygestaan het) as aanvalsafrigter vir die toer betrek is.

Engelse toerspan –

Agterspelers
Mike Brown (Harlequins), Elliot Daly (Wasps), Nathan Earle (Saracens), Jonny May (Leicester Tigers), Denny Solomona (Sale Sharks), Danny Cipriani (Wasps), Owen Farrell (Saracens), George Ford (Leicester Tigers), Alex Lozowski (Saracens), Cameron Redpath (Sale Sharks), Dan Robson (Wasps), Henry Slade (Exeter Chiefs), Ben Spencer (Saracens), Ben Te’o (Worcester Warriors) en Ben Youngs (Leicester Tigers).

Voorspelers
Luke Cowan-Dickie (Exeter Chiefs), Ellis Genge (Leicester Tigers), Jamie George (Saracens), Joe Marler (Harlequins), Kyle Sinckler (Harlequins), Mako Vunipola (Saracens), Harry Williams (Exeter Chiefs), Tom Curry (Sale Sharks), Ben Earl (Saracens), Jonny Hill (Exeter Chiefs), Nick Isiekwe (Saracens), Maro Itoje (Saracens), Joe Launchbury (Wasps), Chris Robshaw (Harlequins), Brad Shields (Hurricanes), Sam Simmonds (Exeter Chiefs), Billy Vunipola (Saracens), Jack Willis (Wasps), Mark Wilson (Newcastle).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.