Engelse sit voet dwars oor Bok-Wallis-toets

`n Advertensie vir die toets in Washington. (Foto: Twitter)

Daar wag ’n groot ontnugtering op die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, as hy planne gehad het om van die Suid-Afrikaanse spelers wat in Engeland speel, vir die toets op 2 Junie in Washington teen Wallis te kies.

Dit volg nadat die Engelse rugbybase Woensdag ’n stokkie gesteek het voor die insluiting van drie Walliesers wat in Engeland speel – Josh Adams, Tomas Francis en Luke Charteris – om teen die Springbokke te speel omdat die toetswedstryd buite die toetsgleuf val.

Dit het die Walliese afrigter, Warren Gatland, genoop om hulle met Ashton Hewitt, Rhodri Jones en Aaron Wainwright te vervang, terwyl die beseerde Josh Navidi ook nie meer sal saamtoer nie.

Ai, dis darem niks anders nie as die verwatering van toetsrugby, veral omdat ’n hele rits spelers ’n ruskans kry en talle ander beseer is. Spanne wat dus nie op volle sterkte is nie, sal teen mekaar meeding.

Wat verrassend (eintlik skokkend) is, is dat Walliesers en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) deeglik bewus is van die bepalings en voorskrifte van Premier Limited Rugby, wat na die belange van die Engelse spelers en klubs omsien, maar hulle het seker maar gehoop dat die reëls gebuig sou word.

Die Washington-toets is nietemin vasgeknoop en albei spanne sal glo R9 miljoen elk verdien.

’n Klein ligpunt vir Wallis is dat George North en Ross Moriarty, wat ook in Engeland speel, wel teen die Bokke kan speel omdat hulle binnekort na Walliese klubs oorskuif.

Erasmus sit nou opgeskeep met ’n dilemma, want nie een van die vyf of ses spelers wat in Engeland en Frankryk speel, soos Willie le Roux, Faf de Klerk, Vincent Koch, Bismarck du Plessis en Frans Steyn, sal teen Wallis kan speel nie.

Daar is ook geen duidelikheid (dalk is daar), oor die moontlike insluiting van Duane Vermeulen nie. Gaan hy Japan toe of gaan hy hom vir die Bokke beskikbaar stel?

Boonop is Pat Lambie en Lood de Jager beseer en ewe skielik sal daar in die rigting van die noodknoppie gekyk moet word.

Aan die ander kant, Erasmus word nou verplig om net spelers wat in Suid-Afrika speel, vir die toets teen Wallis te kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Albert ·

Was dit nie die doel van die toets om sy tweede span kans te gee en dat net spelers wat in die plaaslike ligas rugby speel te speel nie. Ons moet stop om na spelers wat oor see speel te kies, daardie speler het gekies om daar te speel, beloon ons plaaslike spelers dan sal ons rugby groei soos NZ wat ons almal na smag

Frans C ·

Die Suid Afrikaanse Rand is onder druk,selfs teen die NZ-dollar verhandel dit teen R8-55
vir 1 NZ dollar. 1 NZ dollar=0,55 Britse pond, teenoordie Rand wat teen oor die Britse pond verhandel teen meer as R17 vir Een Britse pond.

Dit is dus vir ons speler ‘n groter trekpleister as vir ‘n NZ speler.

Wessie ·

Kruger klink skoon uitasem omdat so min oorsese spelers beskikbaar gaan wees!
Dankie tog daarvoor – ondersteuners verkies om die plaaslike spelers in die Bokspan te sien…

Johnna ·

Ek dink dit is n goeie ding wat die bepaling betref ons wil die manne in groen en goud sien wat in hier bly nie die trekvoels nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.