Engelse wil Bokke poegaai duik

Foto WAtoday.au.com

Foto WAtoday.au.com

Dis darem lekker as jy  ʼn beleid het en daarby hou.

Terwyl die Springbokafrigter, Allister Coetzee, en die Suid-Afrikaanse rugbybase op die oog af steeds in die donker rondtas of hulle spelers wat oorsee speel, vir die Bokke moet oorweeg, het die Engelse afrigter, Eddie Jones, ʼn bedekte waarskuwing aan enige speler gestuur wat in Frankryk wil speel.

Die Engelse toetslosskakel George Ford se kop staan glo toe Toulon toe, daar waar sy pa, Mike, nou afrig. Dis die einste Ford, wat ʼn paar maande gelede deur Jones as  ʼn jong Dan Carter beskryf is.

“Dis ʼn maklike keuse. Òf jy teken (ʼn kontrak) by ʼn Engelse klub òf jy teken by ʼn Franse klub. As jy in Frankryk teken, speel jy nie vir Engeland nie. Ek is nie daaroor bekommerd nie ,” het Jones aan die BBC gesê.

Dis een van die allerbelangrikste sake wat op die onlangse tweedaagse beraad oor Springbokrugby bespreek is, maar waaroor daar geen besluit geneem is nie. Die Springbokspan wemel steeds van oorsese Bokke en sal eers aanstaande week kan begin saamoefen omdat hierdie spelers nog die naweek klubverpligtinge het.

Daarteenoor oefen die Engelse reeds in Algarve in Portugal voordat hulle aanstaande Saterdag op Twickenham die Bokke pak.

♦  Jones, wat na sy aanstelling vir Paul Gustard (hy het 97 keer vir Leicester, 98 keer vir die Exiles en 48 keer vir Saracens gespeel)  as sy verdedigingsafrigter nader getrek het, het nou ook op die knoppie van die ervare rugbyliga-verdedigingsafrigter, Jason Ryles van die Melbourne Storm, gedruk om die volgende twee weke te help.

Ryles, wat ʼn groot en vurige slot was en ʼn hele paar rugbyligatoetse gespeel het, moet die Engelse verdediging verder opskerp.

Verdediging word nie maklik aangeleer nie. Jy kan alle moontlike hulpmiddels gebruik en die duiksakke voos duik, maar as jou hart en houding nie reg is, kan jy maar daarvan vergeet. Dis wat nog ʼn Australiese rugbyligaster en nou direkteur van Leinster in Ierland, Less Kiss, die Bokke jare gelede aangeleer het. Ray Mordt het aan dieselfde beginsels geglo – en hoeveel spelers het verby Mordt gekom?

Die Bokke het darem nou vir die Lions se JP Ferreira nader getrek nadat Chean Roux van die Maties (watter Varsitybeker-spanne het goeie verdediging?) die trekpas gekry het.

Maar Ferreira sal net ʼn paar dae hê om tussendeur al die ander vaardigheidsoefeninge ook verdere tyd af vir verdediging af te knyp.

Dit is mos nie genoeg nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.