Engelsman geniet sy rugbytyd in Kaap

Ben Loader in aksie vir die Stormers. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Ben Loader het ʼn spul wedstryde vir London Irish agter die blad, maar deesdae geniet die 25-jarige Engelsman sy rugby in Tafelberg se skadu.

Die vlugvoetige agterspeler is nou in die kleure van die Stormers te sien waar hy skouers met kreatiewe spelers soos Manie Libbok, Damian Willemse, Warrick Gelant en Suleiman Hartzenberg skuur.

Hy behoort ook Saterdag in aksie te wees wanneer die Kapenaars ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Sharks op Kingspark speel.

“Dit is ʼn splinternuwe ervaring om teen hierdie spanne te speel; die enigste Suid-Afrikaanse teenstanders teen wie ek vantevore gespeel het, was die Stormers. Ek is baie opgewonde om nou teen die Sharks in Durban kragte te meet, waarna die Bulls op Loftus Versfeld wag,” het Loader gesê.

“Jy kom teen spelers van wêreldgehalte en Wêreldbeker-wenners te staan en ek wil die geleenthede met al twee hande aangryp.”

Nodeloos om te sê geniet hy dit om saam met Libbok en kie te speel.

“Kaapstad het my huis geword en die ouens in die agterlyn maak die skakelwerk op die veld baie maklik. Die span beskik ongetwyfeld oor sterspelers.”

Volgens Loader is die agterlynspelers op dieselfde bladsy wat aanvallende rugby betref – hulle hou daarvan om met kreatiewe vryheid te speel en om hul spanmaats in gapings weg te stuur.

Van die senior spelers gaan waarskynlik die naweek ʼn blaaskans geniet wat beteken dat die Reading-boorling een van die leiersfigure in die groep kan wees.

“Ek was een van die meer ervare spelers in die London Irish-opset en ek is opgewonde oor die komende verantwoordelikheid. Hopelik kan ek ʼn soortgelyke rol vir die Stormers vertolk noudat ek my voete hier gevind het.”

Die kragmeting tussen die Stormers en die Sharks begin Saterdag om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Wedstrydbeamptes:

Skeidsregter: Morné Ferreira

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Stephan Geldenhuys

Televisie-skeidsregter: Ben Crous.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.