Engelsman noem SA legendes in droomspan

gerber.jpeg

‘n Jong Danie Gerber in aksie. Argieffoto.

Deesdae lyk dit of elke Jan Rap en sy maat hul droomrugbyspan op die internet laai. Maar wanneer ʼn Engelse staatmaker hulde aan twee Suid-Afrikaanse legendes bring, kan ʼn mens gerus daaroor spog.

Maak nie saak wanneer hy die vyftiental neergepen het nie.

Martin Johnson, Engeland se vuurvreter slot en kaptein wat die Webb Ellis-trofee in 2003 omhoog gehou het, meen dat Danie Gerber en Frik du Preez met die bestes nóg kan saamgesels.

Gerber het 19 drieë in sy Springbok-loopbaan van 24 toetse gedruk en Johnson meen dat die “doring van Despatch” oor emmersvol spoed en krag beskik het.

“Hy het destyds ʼn driekuns van drieë in die eerste helfte teen Engeland gedruk. Ek weet eintlik nie veel van sy balverspreidingsvaardighede nie; dit was nooit juis vir hom nodig om die bal na ander spelers te laat loop nie.”

Volgens Johnson het hy in 1996 in ʼn liefdadigheidswedstryd teen Gerber te staan gekom.

“Danie moes al amper 40 jaar oud gewees het, maar hy het steeds ongelooflike spel opgedis.”

Rugbylegende, Frik du Preez. Foto: Eunice Stoltz

Voorlangs Johnson sal Suid-Afrika se rugbyspeler van die vorige eeu, Frik du Preez, saam met Colin Meads van Nieu-Seeland in die lynstane rank.

Du Preez was “net” 1,89 m lank en het 102 kg geweeg; Meads (1,92 m en 102 kg) was ook maar aan die kleinerige kant gemeet aan vandag se slotmonster-standaarde. Maar hulle was twee van die wêreld se beste slotte; jare gelede reeds in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem.

“Hulle het weliswaar in die 1960’s gespeel, maar hulle is al twee baie moderne spelers. Meads is in alle waarskynlikheid die beste All Black-speler ooit, terwyl Frik danksy sy merkwaardige spoed en atletiese vermoë uitgeblink het. Ek was nie so goed soos hulle nie.”

Johnson se droomspan: Serge Blanco (heelagter, Frankryk), Joe Roff (regtervleuel, Australië), Philippe Sella (buitesenter, Frankryk), Danie Gerber (binnesenter, Suid-Afrika), Jonah Lomu (linkervleuel, Nieu-Seeland), Jonny Wilkinson (losskakel, Engeland), Gareth Edwards (skrumskakel, Wallis), Wayne Shelford (agtsteman, Nieu-Seeland), Michael Jones (flank, Nieu-Seeland), Richard Hill (flank, Engeland), Frik du Preez (slot, Suid-Afrika), Colin Meads (slot, Nieu-Seeland), Jean-Pierre Garuet (stut, Frankryk), Sean Fitzpatrick (haker, Nieu-Seeland) en Jason Leonard (stut, Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris dupreez ·

Ek moet saam stem, ek dink ook Naas Botha by verre beter as Wilkinson.

piet ·

Naas kon nie tackle nie. Phil Bennett of Dan Carter sou my keuse gewees het.

yahneh ·

Naas was ‘n briljante wedstryd wenner. Hy het indrukwekkende vermoë om die veld lees. ‘n Rugby genie.

Martie Smartie ·

Nee wat, het hierdie ou nog nie v Schalk Burger gehoor nie? Hy het duidelik nie goeie kennis van SA spelers oor die dekades heen nie. Hy het seker maar gegoogle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.