Engelsman sê Duhan is ‘Skotland se Lomu’

Duhan van der Merwe vier sy driekuns teen Engeland op Murrayfield. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Wanneer Duhan van der Merwe deur verdedigers bars en oor die doellyn vlieg, lyk sy kapsel net so netjies as vóór die wedstryd.

Gʼn wonder sommige Skotse rugbyliefhebbers praat van hom en Superman in dieselfde asem nie. Boonop staan die oudleerder van Hoërskool Outeniqua 1,93 m in sy sokkies, terwyl hy die skaal op 106 kg laat kreun.

Wie het Clark Kent op die rugbyveld nodig wanneer jy op ʼn Van der Merwe se knoppie kan druk?

Nou het Toby Flood die 28-jarige agterspeler ʼn groot klop op die skouer gegee.

“Van der Merwe is briljant. Hy is besig om ʼn wêreldgehaltevleuel te word. Hy is groot, ongelooflik sterk en ʼn wafferse fisieke frats. Daarbenewens het hy ook ʼn fyn aanvoeling vir die spel – hy verstaan sy rol in die span en hy is male sonder tal op die regte tyd en plek,” het die voormalige Engeland-losskakel gesê.

Die Suid-Afrikaans gebore speler het ʼn driekuns van drieë teen Engeland op Murrayfield gedruk en dit was veral sy samespel met Finn Russell wat vriend en vyand beïndruk het.

Volgens Flood laat Van der Merwe hom deesdae aan Jonah Lomu dink – die Nieu-Seelandse kragreus wat verdedigers laat bontstaan het.

“Daar is baie ooreenkomste tussen hom en wyle Jonah Lomu; hulle is groot, sterk en vinnige spelers. Die moeilikste ouens om jou man op verdediging teen te staan is die spelers wat jou nie net kan plat hardloop nie, maar jou ook met hul pypkanvaardighede kan flous. ʼn Mens weet nooit heeltemal wat om teen hulle te doen nie.”

Van der Merwe is ’n driedrukmasjien. (Foto: Malcolm Mackenzie/ProSportImages/AFP)

Die Edinburgh-speler se Sesnasies-driedrukhelde beteken dat hy ook Stuart Hogg se nasionale rekord van 27 drieë in visier het.

Dié rekord kan binnekort agter sy naam staan – Skotland moet nog twee Sesnasies-wedstryde speel en wanneer jy drie drieë teen Engeland kan druk, is ʼn drie hier en ʼn drie daar teen Italië en Ierland seker nie te vergesog nie.

Skotland speel Saterdag om 16:15 teen Italië in Rome en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Meeste drieë vir Skotland:

  1. Stuart Hogg: 27 drieë
  2. Duhan van der Merwe: 26 drieë
  3. Ian Smith: 24 drieë
  4. Tony Stanger: 24 drieë
  5. Darcy Graham: 24 drieë

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kragaap ·

Op sy huidige vorm sal hy moeilik uit enige nasionale span gehou word.

piet ·

Hy sal nie span kry in SA of NZ nie, daar is beter vleuels in altwee daai 2 spanne.

kragaap ·

Duhan is wêreldklas as hy beskikbaar was sou hy definitief die bok groep gemaak het.

Frans ·

Hy lees die spel goed en pas goed in Skotland se spelpatroon in.Hy sou weens sy velkleur nie maklik die span gehaal het nie omdat wit dan oorverteenwoordig sou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.