Enkele klubs oorheers uitspelery by Leeus, SWD

ʼn Paar klubs oorheers die uitspeelrondes Saterdag in die Goue Leeus en die Suidwestelike Distrikte (SWD) se ligas.

Wat die Leeus betref, spook die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die NWU Pukke die eindstryd om die Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) uit, met die twee universiteite se tweede-, o-21- en o.19-spanne wat ook in hul onderskeie afdelings aanmekaar spring.

Die enigste ander klub in ʼn PGU-eindstryd is Raiders, wie se derde span die Pukke in húl afdeling uitdaag.

Alberton speel op sy beurt in vier van die vyf Bailybekereindstryde.

Sy eerstespan speel teen die verdedigende kampioen, Germiston Simmer; die tweede teen Johannesburg Polisie; die o.21-span teen Unie; en die o.19-span ook teen Simmer.

Harlequins en Polisie durf mekaar in die afdeling vir derde spanne aan.

Wat die Senior Grootuitdaagreeks (SGU) betref, speel Eldoronians (Eldoradopark) teen Tshuma Stingers (Midrand); en in die o-20-afdeling Alexandra teen Kagiso.

Al die wedstryde word op die UJ se Wessportterrein beslis en die eerstes skop 13:00 af.

SWD

Al drie Progress (George), Barbarians (Mosselbaai) en Bridgton (Oudtshoorn) se spanne, en twee van Groot-Brakrivier s’n, het die halfeindronde van die SWD se Premierliga gehaal.

Die verdedigende kampioen, Evergreens (Pacaltsdorp), is die enigste wat net een span in die halfeind het.

Progress en Barbarians se spanne speel van 13:00 af op Rosemore in George teen mekaar.

Op Oudtshoorn speel Bridgton teen Evergreens, en sy tweede- en derdespan durf hul eweknieë van Groot-Brak aan. Dié kragmetings begin ook 13:00.

Heidelberg, Albertinia Rangers en George het elkeen met albei sy spanne na die Presidentsliga se halfeindstryd deurgedring.

Eersgenoemde twee speel van 14:00 af op Heidelberg teen mekaar.

George speel van 13:00 af op Outeniekwapark, George, teen Willowmore II en Prins Albert I.

Jongste uitslae –

Presidentsliga-uitspeelwedstryde

Eerstespanne

Prins Albert 37, Collegians (Oudtshoorn) 20; Albertinia 26, Harlequins (Oudtshoorn) 25.

Tweedespanne

Willowmore 27, Prins Albert 16; Albertinia 35, Spring Roses (Oudtshoorn) 22.