Enorme kloof dreig in Supersportreeks

ʼn Enorme kloof dreig tussen die top- en onderste spanne in die Supersportreeks en die eerste ronde se uitslae dui op ʼn wesenlike gebrek aan mededingendheid.

Sondag se oorwinnings in die Wolfsonstadion, Kwazakhele, Port Elizabeth, was selfs groter as Saterdag s’n.

Die verdedigende kampioen, die Westelike Provinsie, het die Oostelike Provinsie met 59-12 verwoes (rustyd 26-7). Die OP was verlede jaar tweede in die Suidstreek.

Die WP het Sondag die OP se swak verdediging meedoënloos uitgebuit.

Boland het Grens met 51-24 afgeransel. Die verloorspan se gebrekkige voorbereiding vanweë sy geldkrisis het ooglopend geblyk.

Grens was weliswaar rustyd met 17-8 voor, maar het in die tweede helfte heeltemal uitgesak.

Charles Mayeza het drie drieë vir die wenspan gedruk.

Die feit dat die wenspanne 40 van die naweek se 56 drieë gedruk het, dui op die mate waarin hulle hul teenstanders oorheers het.

Puntemakers –

OP 12 (7) – Drieë: Alandré van Rooyen, Dries van Schalkwyk. Doelskop: Henrique Olivier.

WP 59 (26) – Drieë: Jean-Luc du Plessis (2), Duncan Saal (2), Tristan Leyds, Grant Hermanus (2), Chad Solomon, Michal Hazner. Doelskoppe: Joshua Stander (5), Grant Hermanus (2).

Boland 51 (8) – Drieë: Charles Mayeza (3), Zandré Jordaan, Sergio Torrens, Edwin Sass, Clinton Theron, Jovelian de Koker. Doelskoppe: Elgar Watts (4). Strafdoel: Elgar Watts.

Grens 24 (17) – Drieë: Billy Dutton, Athenkosi Manentsa (2). Doelskoppe: Bangi Kobese (2). Strafdoel: Bangi Kobese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.