Erasmus kan ʼn groot slag met Owens slaan

Nigel Owens. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Volgens dr. Henning Gericke sal die Springbokke ʼn reuseslag slaan as Nigel Owens instem om in hul hoek tydens die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk te wees.

Rassie Erasmus, SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby, het vandeesweek bevestig dat hy voelers na die 51-jarige Walliese blaser uitgesteek het om as konsultant by die Springbokke betrek te word.

Indien die gewilde oudskeidsregter tot die versoek instem en as die Suid-Afrikaanse rugbybase die groenlig daarvoor gee, wag daar ʼn belangrike taak op hom.

Hy sal nie net die Springbokke meer touwys moet maak wat skeidsregterbeslissings betref nie, maar hy sal ook ʼn deurslaggewende rol speel om die verhoudingsbrug tussen die Suid-Afrikaners en Wêreldrugby te versterk.

Rassie Erasmus. (AP Photo/Christophe Ena)

Erasmus was in die verlede gereeld in die kollig vanweë sy kritiek op skeidsregters op Twitter en hy is ʼn paar keer deur Wêreldrugby geskors.

Gericke meen dat Owens se moontlike betrokkenheid die Bokke soos ʼn handskoen kan pas. Hy is ʼn ervare fluitjieblaser – hy was in vier Wêreldbeker-toernooie in aksie – terwyl toetsskeidsregters hoë agting vir hom het.

“Rassie is ʼn slim man, hy is altyd een tree voor die ander en hy het goed oor alles nagedink. Só ʼn aanstelling sal as’t ware ʼn saadjie by ander skeidsregters plant: Hierdie span wil positief met wedstrydbeamptes saamwerk,” het die bekende sportsielkundige gesê.

As skeidsregters dan sien dat die Springbokke moeite doen om hulle beter te verstaan én om ʼn beter verhouding te bou, kan hul persepsie van die span beslis meer positief word.

“Die Bokke stuur nou ʼn boodskap uit dat skeidsregters belangrik is en dat hulle na die beste gegaan het om hulle touwys te maak. Rassie weet hoe om die beste uit almal te kry en hy kan beslis weer die skaal in ons guns kry.”

Dr. Henning Gericke. Foto: Facebook.

Gericke was ʼn lid van Jake White se seëvierende Springbok-span wat in 2007 die Webb Ellis-trofee (ook in Frankryk) omhoog gehou het. In 2019 het hy ook in die aanlop tot  die Wêreldbeker-toernooi vir Maroela Media gesê dat die span op die pad na sukses was.

Is die huidige span op ʼn soortgelyke koers?

“Ek dink hulle is nou psigies baie sterker as vier jaar gelede. Siya [Kolisi] is meer gemaklik in sy rol as kaptein, terwyl ouens soos Eben Etzebeth en Malcolm Marx ook op hul beste is. Terselfdertyd is die spandinamika gesond en die esprit de corps-vlam brand helder .”

Tog moet die spelers steeds honger wees om te wen.

“Dit is steeds baie belangrik om te weet wat elke speler se vlam helder laat brand – hoe gaan jy toesien dat Faf de Klerk op alle suiers vuur of wat gaan vir Damian de Allende motiveer? Vuur het immers ʼn geneigdheid om uit te brand en ʼn span moet weet hoe om sy spelers se vuur te stook.”

Die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog begin amptelik op 10 September teen Skotland op die Stade Vélodrome.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael ·

Hierdie bevestig net dat Nienaber net in teorie die afrigter is. Wanneer gaan Erasmus hom beywer vir alle vlakke van rugby in SA. Voorheen het baie min geweet wie is die direkteur van rugby, nou sien jy hom aldag en heeldag net by een span en dit is die nasionale span-wat van die ander? Is hy net direkteur van springbokrugby?

George ·

Wanneer gaan Rassie sy volle rol nakom en nie net met die mans span werk nie? Hy doen tans net net 50% van sy werk. Hyt nie eens die effort gedoen om na die vrouens worldcup toe te gaan nie, hyt eerder gekerm op twitter.

Oros Soros ·

Daars hy Rasman, wys al die suurknolle en beterweters hoe word dit gedoen. Nog ‘n wêreldbeker oppad Suid-Afrika toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.