Erasmus, Nienaber beïndruk met Leeus-sege; Georgië-toets sal voortgaan

Die Britse en Ierse Leeus na hul oorwinning teen Japan. (Foto: ANDY BUCHANAN/AFP)

Die Britse en Ierse Leeus kom vandag in Suid-Afrika aan terwyl die span van Georgië reeds Sondag gearriveer het.

Dit kom te midde van die derde Covid-19-vlaag wat Suid-Afrika tans teister en die Springbokke wat Sondag ’n beplande oefensessie in Johannesburg gekanselleer het nadat drie spelers positief vir Covid-19 getoets het.

Die Leeus en die Lelos, soos Georgië bekend staan, sal in bioborrels bly voordat hulle teen die Springbokke kragte meet.

Die eerste van twee toetse teen Georgië vind Vrydag plaas voor die drie wedstryde teen die Leeus op 24 Julie, 31 Julie en 7 Augustus. Die Britse en Ierse Leeus se eerste toetswedstryd is Saterdag teen die Suid-Afrikaanse Leeus. Hulle speel op 7 Julie teen die Haaie, op 10 Julie teen die Blou Bulle, op 14 Julie teen ʼn Suid-Afrikaanse A-span en op 17 Julie teen die Stormers.

Warren Gatland, hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus se rugbyspan na Suid-Afrika, het verras toe hy die naweek die Ierse skrumskakel Conor Murray as sy nuwe kaptein in die plek van die beseerde Alun Wyn Jones vir die toer na Suid-Afrika aangewys het.

Jones het Saterdag in Edinburg ʼn skouerbesering opgedoen in die opwarmtoets teen Japan, wat ook die einde van die flank Justin Tipuric se toerdrome beteken het.

Jones word deur Adam Beard van Wallis vervang en Tipuric deur nog ʼn Wallieser, Josh Navidi.

Murray (32) het reeds 89 toetse vir Ierland gespeel en was voorheen op twee Leeus-toere.

Rassie Erasmus. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Rassie Erasmus, direkteur van rugby by Saru, het tydens ’n mediakonferensie bevestig die drie spelers wat positief getoets het, is Sbu Nkosi, Vincent Koch en Herschel Jantjies.

Erasmus het benadruk dat die span voldoen het aan al die nodige voorsorgmaatreëls sedert die begin van hul drieweek-kondisioneringskamp wat in Bloemfontein aangebied is. Dit sluit onder meer in drie keer per week verpligte Covid-19-toetsing.

Volgens Erasmus hoop hulle om vandag te mag oefen of andersins Dinsdag. “Ons is dus redelik vol vertroue dat ons, afhangend van wat die komitee aanbeveel, sal kan oefen en Vrydag sal kan speel.”

Rakende die Leeus se vertoning teen Japan het Erasmus en Jacques Nienaber, hoofafrigter van die Springbokke, gesê hulle is beïndruk met die sege van 28-10.

“Ons het gesukkel om Japan te klop, maar ek dink die Leeus het hul ritme redelik vinnig gevind, en hulle sal daarop voortbou, so ons sal sien hoe hulle [Saterdag] teen die [Suid-Afrikaanse] Leeus vaar,” het Erasmus gesê.

Nienaber deel Erasmus se sentiment. “Hulle is ʼn goed gebalanseerde groep met baie gehalte oor die hele linie en daar is nog ʼn paar ouens wat by hulle moet aansluit, so ons sal ons huiswerk goed moet doen en sorg dat ons op ons beste is wanneer ons teen hulle speel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.