Erge ontnugtering vir SA afrigter in Euro-reeks

ʼn Suid-Afrikaanse afrigter en sy span is Saterdag in Lodz, Pole, wreed deur die tuisspan in die reeks om die Rugby Europa-trofee ontnugter.

Ntando Manyosha se Litaue, wat vanjaar tot die reeks bevorder is nadat hy verlede seisoen Afdeling 1 van die Rugby Europa-kampioenskap gewen het, het drie weke gelede verras deur met sy intrapslag vir Tsjeggië, wat verlede jaar derde was, met 30-10 te oorrompel.

Saterdag egter, het Pole, wat verlede jaar tweede laaste was, die nuweling met ʼn oorwinning van 33-0 aarde toe gebring.

Manyosha het sy afrigterstande by die Sharks se rugbyakademie gesny.

Tsjeggië word deur die gewese Bulls-afrigter Phil Pretorius gebrei, en die grondslag vir Pole se afrigting is die afgelope paar jaar deur die Pretoriase afrigter Blikkies Groenewald gelê.

♦ In Anenii-Noi, Moldawië, het Hongarye vir ʼn eersteklas verrassing in Afdeling 1 Noord gesorg deur die tuisspan – oorweldigend die gunsteling – met 31-16 hok te slaan.

Die Moldawiërs was binne 20 minute met 13-0 voor, tot die besoekers se linkervleuel, Gregoire Collet, sake in eie hande geneem het om met drie strafdoele en ʼn drie sy span te neus teen rustyd met 14-13 voor te kry.

♦ In dieselfde afdeling het die tuisspan in Luxemburg puik vertoon om Swede tot ʼn naelskraapse sege van 10-9 te beperk.

Swede het nogtans tot dusver albei sy wedstryde gewen, en is voor op die punteleer. Hongarye (tweede) en Oekraïne (derde) het elk nog net een wedstryd gespeel en dit gewen.

♦ Andorra het sy kragmeting teen Slowakye in Afdeling 2 Suid met 27-14 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.