Erge opskuddings in Sesnasies; Brasilië verstom

Die afgelope weekronde van die Suid-Amerikaanse Sesnasiesreeks het Saterdag ʼn paar groot verrassings opgelewer.

Sowel die Argentynse as die Uruguaanse Vyftiental het skoknederlae gelei.

Brasilië het in Buenos Aires met ʼn verstommende terugvegpoging teen die Argentyne ʼn rustydagterstand van 3-33 in ʼn oorwinning van 36-33 omskep.

Die Tupi’s was nie net soveel beter op die aanval as in die eerste helfte nie, hul verdediging was ook indrukwekkend beter. Kortom, dit was as ʼt ware geheel en al ʼn ander span.

Die Brasiliane is nou die enigste onoorwonne span in die reeks.

In Montevideo, Uruguay, het Chili die tuisspan in ʼn rillerstryd met 22-20 getroef.

Die enigste punte in die eerste helfte was ʼn strafdrie aan Uruguay nadat een van die Kondors met ʼn geel kaart gestraf is (7-0).

Chili se wendrie is kort voor die einde van die wedstryd gedruk, toe die Uruguane nog met 20-15 voor was.

Die uitslae beteken nie Brasilië en Chili sal binnekort met die Poemas en die Kiewiete kan saamgesels nie, maar dit blaas gewis lewe in die Sesnasiesreeks, en kan veel beteken vir die ontwikkeling van die spel in dié twee lande.

Ook in Asunción, Paraguay, het die tuisspan ʼn agterstand van 15-26 teen Colombia met die omdraaislag in ʼn sege van 28-26 omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Capexit ·

Die diepte in Argentynse rugby is uiteraard maar bra vlak. Al hul beste ouens speel Superugby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.