Ervare (en bekende) Jackson blaas vir Bokke teen Franse

Die ervare Glen Jackson blaas Saterdag op Loftus in die Bokke se toets teen Frankryk (Foto: Facebook Glen Jackson)

Die ervare Glen Jackson van Nieu-Seeland blaas Saterdag op Loftus in die eerste toets tussen Suid-Afrika en Frankryk.

Sy aanstelling vir die toets gee aan die Springbokke die effense voordeel dat hulle welbekend is met sy reël-interpretasies omdat hy gereeld vir Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks blaas.

Daar is ook geen twyfel dat die interpretasies tussen die noordelike en suidelike halfrond verskil nie.

♦  Jackson, 41, is verlede jaar as die beste skeidsregter in die Superreeks beskou en op grond daarvan aangestel om in die eindstryd tussen die Hurricanes en die Lions te blaas.

Hy het in 2010 ná meer as 150 wedstryde vir Saracens wat gevolg het op 60 vir die Chiefs in die Superreeks, besluit om die fluitjie op te neem.

Minder as 18 maande later het hy sy eerste Superwedstryd geblaas en sedert sy eerste toets einde 2012 gewys dat hy een van die wêreld se bestes is. Die voordeel as speler op die hoogste vlak het hom ongetwyfeld gehelp om makliker in sy nuwe rol aan te pas.

Jackson is die eerste Nieu-Seelander wat in meer as 100 wedstryde gespeel en ook in meer as 100 wedstryde op eersterangse vlak fluitjie geblaas het. Hy was in 2015 een van die skeidsregters by die Wêreldbeker in Engeland.

♦  Ben O’Keefe van Nieu-Seeland en Angus Gardner van Australië sal die  Springbokke se ander twee toetse teen Frankryk beheer. Soos Jackon is hulle ook ou bekendes in die Superreeks.

♦  Op 24 Junie sal Jaco Peyper die eerste toets tussen die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus op Edenpark beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.