Esterhuizen terug, maar talle beserings by Sharks en Bulls

Jean-Luc du Preez – beseer (Foto: GB Jordaan)

Dis beserings net waar jy kyk, maar tussen die probleme by die Sharks en die Bulls wat Vrydagaand in Durban die Suid-Afrikaanse Superreeks weer aan die gang kry, is daar darem ʼn tikkie goeie nuus ook.

Die Sharks se senter André Esterhuizen, wat in April vir ses weke geskors is, maak sy terugkeer tot die KwaZulu-Natallers se span op binnesenter – en hy sal te doen kry met Jan Serfontein, wat moontlik sy beste rugby speel sedert hy in 2013 tussen die senior spelers losgelaat is.

Onder meer kan vier voorste Springbokke nie tans vir die spanne oorweeg word nie.

Pat Lambie is klaarblyklik vir die res van die jaar weens sy soveelste probleme ná harsingskudding van die veld; Handré Pollard se enkelbesering maak dit onwaarskynlik dat hy vanjaar Superrugby sal speel; en die beserings van die Springbokstut Beast Mtawarira en die Bok-losvoorspeler Jean-Luc du Preez hou hulle albei uit Vrydagaand se wedstryd.

Die Sharks se slot Ruan Botha is boonop vir drie wedstryde geskors en sal slegs weer vanjaar Superrugby kan speel as sy span na die halfeind deurdring. Die vleuels Lwazi Mvovo en Kobus van Wyk is ook weens beserings nie beskikbaar nie, en die Wêreldbekersenter van Namibië Johan Deysel het sy arm in ʼn toets teen Spanje gebreek.

Curwin Bosch is ná sy toernooi vir die Junior Bokke terug as heelagter met Garth April wat op losskakel vir die Sharks sal speel. S’bura Sithole sal saam met Esterhuizen op senter speel in ʼn seisoen waar daar min kontinuïteit by die Sharks in hierdie posisie was.

By die Bulls is daar ook ʼn aantal beserings. Die stut Trevor Nyakane is nie beskikbaar nie. Hulle twee uitblinker-vleuels, Jamba Ulengo en Travis Ismaiel, sukkel albei met kniebeserings. Jade Stighling, wat al Superrugby geproe het, het verlede week teen die Goue Leeus ʼn gebreekte kakebeen opgedoen; en die Tukkies se vleuelblits Sibahle Maxwane het weer harsingskudding.

Nollis Marais het dus vir Duncan Matthews weer nadergetrek. Kefentse Mahlo maak op die ander vleuel sy debuut op Supervlak.

Burger Odendaal is op die bank met Marais se besluit om Jesse Kriel nie weer as vleuel te gebruik nie, maar die goeie Bokkombinasie van Kriel en Serfontein teen die Sharks los te laat.

Tony Jantjies begin op losskakel die eerste keer ʼn Superwedstryd met Tian Schoeman wat ook bankdiens doen.

Spanne –

Sharks
15 Curwin Bosch, 14 Odwa Ndungane, 13 S’bura Sithole, 12 Andre Esterhuizen, 11 Sbu Nkosi, 10 Garth April, 9 Cobus Reinach, 8 Daniel du Preez, 7 Tera Mtembu, 6 Philip van der Walt (kapt), 5 Stephan Lewies, 4 Etienne Oosthuizen, 3 Coenie Oosthuizen, 2 Franco Marais, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Juan Schoeman, 18 Lourens Adriaanse, 19 Hyron Andrews, 20 Jacques Vermeulen, 21 Michael Claassens, 22 Jeremy Ward, 23 Marius Louw.

Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Duncan Matthews, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Kefentse Mahlo, 10 Tony Jantjies, 9 Rudy Paige, 8 Nic de Jager, 7 Jannes Kirsten, 6 Ruan Steenkamp, 5 RG Snyman, 4 Jason Jenkins, 3 Conraad Van Vuuren, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Lizo Gqoboka, 18 John-Roy Jenkins, 19 Shaun Adendorff, 20 Renaldo Bothma, 21 André Warner, 22 Burger Odendaal, 23 Tian Schoeman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.