Etlike SA afrigters hou Euro-bekerkanse lewend

Etlike Suid-Afrikaanse afrigters se spanne het hul kanse in die Europese klubbekerreekse met seges in die jongste uitkloprondes lewend gehou.

Johann van Graan (Munster), Johan Ackermann (Gloucester), Kobus Potgieter (Heidelberg) en Harvey Biljon (Jersey) se spanne is almal nog in die wedloop om hoër louere.

Europese Kampioenebeker

♦ Van Graan, ʼn gewese hulpafriger van die Springbokke, se Ierse provinsie het die Franse reus Toulon op Thomond Park, Limerick, in die kwarteindronde van die reeks om die Europese Kampioenebeker met 20-19 getroef (rustyd 10-6).

Suid-Afrikaners in die wenspan was die gewese Bulls-speler CJ Stander (agsteman), wat reeds in 23 toetse vir Ierland en een vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het, en die gewese Stormers Jean Kleyn (slot) en Gerbrandt Grobler (bankslot).

Die afgelope twee jaar se kampioen, die Engelse klub Saracens, het op Landsdowne Road, Dublin, met 19-30 teen die Ierse provinsie Leinster vasgeval (rustyd 12-13); die Walliese streekspan Scarlets het die Franse klub La Rochelle op Parc y Scarlets, Llanelli, met 29-17 verslaan (rustyd 12-10); en die Franse klub Racing 92 het sy landgenoot Clermont Auvergne in die Marcel Michelin-stadion in Clermont-Ferrand met 28-17 uitgeskakel (rustyd 14-13).

Scarlets se span het David Bulbring (slot), voorheen van die Lions en die Kings, en die Springbok Werner Kruger (bankstut) ingesluit; die Bok Pat Lambie (losskakel) en die oud-Bolander en Franse toetsflank Bernard le Roux was tussen Racing se stryders.

Europese Uitdaagbeker

♦ In die kwarteindronde van die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Ackermann, ʼn gewese afrigter van die Lions en Suid-Afrika A, se Engelse klub Gloucester die Ierse provinsie Connacht op die Galway-sportterrein met 33-28 geklop (rustyd 17-10).

Die gewese Lions-speler Ruan Ackermann (agsteman) het van die bank af vir die wenspan gespeel.

♦ In die Stade de Hameau in Pau het die tuisspan, met die Springbok Lourens Adriaanse as bankstut in sy geledere, verras deur die verdedigende kampioen, Stade Français, met 35-32 uit die reeks te knikker (rustyd 27-14).

♦ Op Murrayfield is die tuisspan, die Skotse superklub Edinburgh, deur die Walliese streekspan Cardiff Blues met 20-6 uitoorlê (rustyd 14-3).

Die gewese Lions-speler Jaco van der Walt (losskakel) het die Skotte se punte met twee strafdoele behaal.

George Earle (slot), wat Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel het, het vir die wenspan uitgedraf.

♦ Die Engelse klub Newcastle het op Kingston sy Franse eweknie Brive oortuigend met 25-10 geklop (rustyd 12-10).

Kontinentale Skild

♦ Die gewese Tukkie, Potgieter, en sy hulpafrigter, Pieter Jordaan, se Duitse kampioen, die rugbyafdeling van die Heidelbergse Roeiklub, het weliswaar in die Dan Paltinisanu-stadion in Timisoara met 20-26 teen die Roemeense kampioen Timisoara Saracens verloor, maar die halfeindstryd word op ʼn tuis-en-weg-grondslag beslis.

As Heidelberg op 21 April die weeromwedstryd op sy tuisveld met sewe of meer punte kan wen, haal hy die eindstryd met die vooruitsig om aanstaande jaar aan die reeks om die Uitdaagbeker deel te neem.

Marcel Coetzee, ‘n gewese o.19-speler van die Sharks, het ʼn drie vir Heidelberg gedruk, en Raynor Parkinson, `n gewese UJ-losskakel, het albei sy span se drieë verdoel en met twee stafdoele geslaag om tien punte te behaal.

Jody Rose, ‘n Opkomende Springbok in 2008, het drie van Saracens se vier drieë verdoel.

Parkinson (29 toetse) en Coetzee (11) het Duitsland al op die rugbyveld verteenwoordig; en Rose het in 12 toetse vir Roemenië gespeel.

Nóg ‘n speler van Timisoara, Randall Morrison, het Vodacombekerrugby vir die destydse Jong Leeus gespeel en Roemenië in ʼn toets verteenwoordig.

Klubs uit Italië en die tweedevlak-rugbylande van Europa (soos België, Duitsland, Georgië, Spanje, Portugal, Roemenië en Rusland) speel in dié reeks.

Verlede jaar se skildwenner, Jenisei STM, en die naaswenner, Krasni Jar, albei van Rusland, het vanjaar in die reeks om die Uitdaagbeker gespeel. Slegs een sal aanstaande seisoen oorbly, en in die dubbeldoor-halfeindstryd tussen die twee het Jenisei STM sy tuiswedstryd met 47-22 gewen. Krasni Jar sal dus met 26 of meer op sy tuisveld moet wen as hy sy plek in die eindstryd en die reeks wil behou.

Anglo-Walliese Beker

♦ ʼn Gebore Zimbabwiër het Exter tot oorwinning in die reeks om die Anglo-Walliese Beker, die liga waarop Griekwas en die Pumas glo hul visier het, gelei.

Kai Horstmann (agsteman) het ʼn leidende rol in die klub se opgang die afgelope paar jaar en sy eerste sege verlede jaar in die Premierliga gespeel.

Hy is egter in die jongste tyd deur beserings gery, en die eindstrydsege van 28-11 (rustyd 25-8) oor Bath op Kingsholm, Gloucester, was op 36 sy laaste wedstryd voordat hy ʼn pos in die klub se administrasie aanvaar.

Wilhelm van der Sluys, wat Curriebekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel het, het van die bank af vir die wenspan gespeel.

Leicester was die vorige kampioen, maar Exter was vier keer opeenvolgend in die eindstryd, en het die beker ook in 2013-’14 verower.

Die 12 Engelse Premierligaklubs en die vier Walliese streke betwis die reeks, wat deesdae meestal deur die klubs vir proefnemings met belowende jong spelers benut word.

Britse en Ierse Beker

♦ Die vierde vermelde Suid-Afrikaanse afrigter, Biljon, wat onderouderdomrugby vir die Sharks gespeel het, se Jersey Reds het Doncaster Knights op St Peter op die eiland in die kwarteindronde van die reeks om die Britse en Ierse Beker met 22-10 verslaan (rustyd 12-0).

Brendan Cope (losskakel), wat insgelyks onderouderdomrugby vir die Sharks gespeel het, het een van Jersey se vier drieë verdoel.

Scott van Breda (heelagter en kaptein) en James Worrall (vleuel) was ander Suid-Arikaners in die wenspan. Roy Godfrey (stut) en Jared Saunders (haker) het van die bank af gespeel.

Die ontwikkelings- of reserwespanne van die Engelse en Ierse beroepsklubs speel saam met die klubs van die Engelse Kampioenskap (die tweedevlakliga) in dié reeks, wat vanjaar ten einde loop nadat die Kampioenskapsklubs te kenne gegee het dat hulle nie langer daarin sal speel nie.

♦ Ealing Trailfinders het op die Vallis Way-sportterrein in Wes-Londen net-net met 28-25 teen Cornish Pirates gewen (rustyd 14-13).

Die tuisspan se Suid-Afrikaans gebore regtervleuel Luke Daniels het 50 m ver vir ʼn onderskepdrie genael, en met ʼn 100%-skoprekord al vier sy span se drieë verdoel.

ʼn Gewese Curriebeker-flank van die Westelike Provinsie, Ryan Smid, was ook vir die wenspan in aksie.

♦ In die ander twee kwarteindwedstryde het Leinster A die verdedigende kampioen, Munster A, op Donnybrook, Dublin, met 17-6 uitgeskakel (rustyd 7-6); en die Bedford Blues het Ulster A op Goldington Road, Bedford, met 16-10 geklop (rustyd 9-7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.