Etzebeth terug vir Sharks

Eben Etzebeth is terug in die Sharks-vyftiental vir die wedstryd teen Ulster. (Foto: Facebook/Sharks)

Eben Etzebeth, Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar, sal sy eerste wedstryd in meer as twee maande speel wanneer die Sharks kragte met Ulster op Kingspark meet.

Die 32-jarige slot het laas in Januarie teen die Lions gespeel en hy het sedertdien ʼn knieoperasie ondergaan.

Hy het egter by SA Rugby se toekenningsgeleentheid in Johannesburg gesê dat hy gereed is om weer goeie vertonings vir die Sharks te lewer.

En die Durbaniete het dit broodnodig.

Hulle kon nog net een wedstryd in die jongste weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap wen en hulle is tans heel onder op die punteleer.

“Ons het nie ʼn goeie seisoen nie en daar is geen verskonings nie; ons moet beslis hand in eie boesem vir dié vertonings steek,” het Etzebeth gesê.

Hy sal saam met Gerbandt Grobler in die Sharks se lynstane rank en het beloof dat die span alles in die stryd sal werp om die seisoen met ʼn paar oorwinnings af te sluit.

“Ons wil sterk eindig. Daar is immers altyd trots wanneer jy die Sharks-trui oor jou kop trek en dit motiveer die ouens om nie moed te verloor nie. Ons wil dinge moeilik maak vir spanne wat Kingspark besoek.”

Vincent Koch is saam met Ox Nché op die tuisspan se plaasvervangersbank ingesluit en Etzebeth is oorgehaal om ʼn vurige vertoning teen Iere te lewer.

“Ons moet meer fisieke spel opdis. Suid-Afrikaners is mal daaroor om vuur met vuur te beveg, maar tans laat ons onsself en ons ondersteuners in die steek met ons vertonings.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Eduan Keyter (regtervleuel), Lukhanyo Am (kaptein en buitesenter), Ethan Hooker (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Siya Masuku (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), George Cronjé (agtsteman), Vincent Tshithuka (flank), Phepsi Buthelezi (flank), Gerbrandt Grobler (slot), Eben Etzebeth (slot), Hanro Jacobs (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ox Nché, Vincent Koch, Corné Rahl, Jeandré Labuschagne, Comeron Wright, Curwin Bosch en Francois Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.