Etzebeth weer Bokkaptein, maar vir hoe lank?

Siya Kolisi en Eben Etzebeth – die Stormers en Bokke se twee leiers.

Eben Etzebeth, Springbokslot van die Stormers wat die Springbokke op kort kennisgewing teen Frankryk op Ellispark moes aanvoer, is Woensdag as kaptein van die Springbokke aangewys.

Warren Whiteley het die Bokke in die eerste twee toetse teen die Franse gelei, maar toe kort voor die derde toets weens ʼn liesbesering onttrek. Hy sal nog ses weke op die krukkelys wees.

Geen aanduiding is deur die afrigter Allister Coetzee gegee of Etzebeth in al ses toetse in die Rugbykampioenskap voor sal draf nie; en Whiteley is met sy aanstelling voor die reeks teen Frankryk ook nie “onbeperk” aangewys nie.

Dit blyk nietemin dat Etzebeth die span sal lei ten minste tot Whiteley gereed is om oor te neem. Dit sal vir die eerste twee toetse teen Argentinië in die Baai op 19 Augustus en op 26 Augustus in Salta wees, en daarna ook heel waarskynlik vir die twee wegtoetse teen die Wallabies en die All Blacks.

Siya Kolisi, Etzebeth se kaptein by die Stormers, sal die onderkaptein wees.

♦  Die eerste twee toetse word op opeenvolgende Saterdae gespeel; dan is daar ʼn week se ruskans met die twee Australasiese toetse wat daarna ook op twee Saterdae sonder ruskans volg; en dan is daar weer ʼn week se rus vir die Bokke voordat hulle Australië en Nieu-Seeland op 30 September en 7 Oktober op onderskeidelik Bloemfontein en Nuweland ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico K ·

Etsebeth is ‘n harde speler en mens het so ou in jou span nodig. Maar hy is in te veel onderonsies betrokke en ek dink nie so ou behoort kaptein te wees nie. Die kaptein moet die rustige ou wees wat vrede maak.

Christo Visagie ·

Hierdie is maar net ‘n voorloper om Siya Kolisi die uiteindelike kaptein van die Springbokke te maak,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,baie kwota spelers in die span,,,,,,,,,,,,,

LOL ·

Hopelik bly hy lank die kaptein. Hy het aangeleer om sy humeur baie goed te beheer. Waneer laas was hy betrokke by onderonsies as skuldige? Die afgelope seisoen “smile” hy en laat opponente net weet: pasop! As kaptein intimideer hy die opponente en die skeidsregters met sy fisieke reputasie dus kry hy die voordeel. Sy spanmaats respekteer hom want wie wil aan sy verkeerde kant sit? En laastens is hy die enigste springbok wat tans in ‘n wereldspan opgeneem sal word. Hopelik het ons nooit weer nodig om ‘n kaptein te kies wat nie noodwendig die eerste keuse is in sy posisie nie bv. John Smit/ Francois Pienaar/ Warren Whiteley?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.