Eurofinale: Net een klub wen met SA leiding

Luke Daniels – sewe punte. (Foto: Twitter)

Net een van die Europese klubspanne waarby Suid-Afrikaners ʼn leidende rol speel, kon die afgelope naweek ʼn titel in die Europese reekse wen.

Luke Daniels, wat in Suid-Afrika gebore is en lank reeds ʼn staatmaker in Ealing Trailfainders se sukses is, het sewe van die Engelse klub se punte (twee doelskoppe en ʼn strafdoel) in die eindstryd om die Britse en Ierse Beker aangeteken.

Sy span het die kragmeting met Leinster A (Ierland) op Vallis Way, West Ealing, Londen, met 22-7 gewen.

Daniels sal aanstaande seisoen vir Bristol speel, wat tot die Engelse Premierliga bevorder is.

♦ Die Springbok Johan Ackermann se droom om die Engelse klub Gloucester in sy eerste jaar as hoofafrigter tot ʼn sege in die reeks om die Europese Uitdaagbeker te brei, is in die doodsnikke van sy wedstryd teen die Walliese streekspan Cardiff Blues verpletter.

Garth Anscombe het ʼn moeilike strafdoel deur die pale geloods om ʼn Walliese sege van 31-39 in die San Mamés-stadion in Bilbao, Spanje, te beklink.

Gloucester was met rustyd 20-6 voor, maar Cardiff het in die tweede helfte kwaai teruggeveg, en toe een van die Engelse klub se spelers met ʼn geel kaart gestraf is, het die Walliesers sy afwesigheid benut om die spyker in die doodkis te slaan.

♦ Die oud-Tukkie Kobus Potgieter en sy rugbyspan van die Heidelbergse Roeiklub (Duitsland), propvol spelers met Suid-Afrikaanse bande, moes in die eindstryd om die Kontinentale Skild, die knie met 20-24 voor STM Jenisei van Krasnojarsk (Rusland) buig.

Sebastian Ferreira het op die Campo de Rugby Fadura, Getxo, Spanje, ʼn drie vir Heidelberg gedruk, en Raynor Parkinson het tien punte met twee doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Eersgenoemde het Superrugby vir die Kings gespeel, en laasgenoemde het die Universiteit van Johannesburg (UJ) verteenwoordig.

Brendan Owen, ʼn gewese o.21-heelagter van die Blou Bulle, het die deurslaggewende drie vir die Russiese klub gedruk.

Jenisei was ná Owen se drie met 24-6 voor, en hoewel Heidelberg sterk teruggeveg het, kon hy op die ou end nie die paal haal nie.

♦ Die Ierse Provinsie Leinster het die Europese Kampioenebeker gewen deur die Franse klub Racing 92 in Balbao met 15-12 te verslaan.

Die beseringsgeteisterde Springbok Pat Lambie (Racing 92) is skaars drie minute ná die afskop met ʼn kniebesering van die veld af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.