Europese rugby: Beseringspook kuier in Bokke se slot-spens

Lood de Jager. Foto: ANA.

Die Springbokke se oorsese slot-spens is besig om leeg te loop nadat Lood de Jager sy soveelste besering opgedoen het en in ʼn wedloop teen tyd gewikkel sal wees om teen die Britse en Ierse Leeus te speel as die toer wel sou plaasvind.

Met RG Snyman (Munster) reeds ʼn jaar lank langs die kantlyn weens ʼn ernstige kniebesering, het De Jager die femur in een van sy bene gebreek nadat hy in ʼn fratsongeluk tydens een van die Sale Sharks se oefeninge op die bal getrap het. Boonop het hy ook ʼn kniebesering opgedoen, maar sal hy volgens Sondagkoerant-berigte eers later vir ʼn skandering gaan.

Met De Jager, wat een van die ware ongeluksvoëls van rugby is weens sy lang lys van beserings, maak dit die deur oop vir plaaslike slotte om hul aanspraak te versterk.

Daar is nie werklike rede tot kommer nie, want Suid-Afrika was nog altyd ʼn slotfabriek.

Die Stormers se JD Schickerling (hy gaan binnekort Japan toe) en Salmaan Moerat is glo van Rassie Erasmus en die Bokafrigter, Jacques Nienaber, se gunsteling-keuses. Daar kan ook altyd op die vuurvreter Willem Alberts of Marvin Orie teruggeval word.

Eben Etzebeth sou Vrydagaand vir Toulon teen Leinster in die Europese Kampioenebekerreeks gespeel het, maar die kragmeting het nie plaasgevind nie omdat een van Toulon se spelers Covid-19 opgedoen het. Leinster het dus outomaties tot die halfeindronde van die reeks deurgedring waar hy nou teen die Exeter Chiefs sal speel.

Jason Jenkins, wat in Japan gespeel het, het ʼn kontrak met Munster onderteken en Walt Steenkamp, een van die belowende jong Turke wat vir Blou Bulle speel, herstel nadat hy probleme met sy hart ondervind het.

Boonop speel Franco Mostert in Japan en daar is maar min nuus oor wat in Japan aangaan.

Die Springbok-keurders kan ook verras deur die 27-jarige Jacques du Plessis, wat die afgelope paar jaar vir Montpellier gespeel het, nader te trek. Du Plessis, wat as losvoorspeler en slot deur Montpellier gebruik word, keer binnekort terug na Suid-Afrika.

*  In die Europese Kampioenebekerreeks het veral die Franse spanne hul stemme dik gemaak.

Toulouse, met die kwiksilwer Cheslin Kolbe wat oral opgeduik het, het Munster met 40-31 geklop. CJ Stander het Munster straks vir die laaste keer aangevoer nadat hulle uitgeskakel is. Damian de Allende, het baie goed op binnesenter vertoon asook die slot Jean Kleyn.

ASM Clermont Auvergne het die London Wasps met 27-25 geklop en La Rochelle het Gloucester met 27-16 uitgeskakel.

Elders het die Exeter Chiefs, verlede jaar se kampioen, Lyon met 47-25 geklop nadat die Chiefs met 0-10 agter was. Die oud Bulle-flank Jannes Kirsten (Exeter Chiefs) het ʼn geelkaart kort voor die einde van die wedstryd gekry.

* Vandag kom die Sale Sharks, wat Faf de Klerk weer terug in die beginspan het, teen die Walliese Scarlets te staan; die Bristol Bears pak Bordeaux Begles en Racing 92 speel teen Edinburgh.

* In die Europese Uitdaagbekerreeks was daar Saterdag oorwinnings vir Benetton, Leicester Tigers, Ospreys en Northampton Saints.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Salman Moerat – gesukkel om SA skole te maak op sy spelpeil maar top kwota kandidaat daarom in die span? In dieselfde asem as De Jager ? Hemel bewaar die bokke. Dalk is Jacques du Plessis die antwoord is hard en groot genoeg om op slot uit te draf saam met Etsebeth.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.