Europese rugby: Blondekop Faf stuur Sale tot laaste agt

Sale het Bristol Vrydagaand geklop. (Foto: Twitter / Sale Sharks)

ʼn Mens begeef jou op gevaarlike terrein wanneer jy die vaardighede van ʼn huidige speler teen helde van weleer opweeg, maar geoordeel aan die Springbok‑skrumskakel Faf de Klerk se vertoning in Vrydagaand se Europese Kampioenebeker-wedstryd tussen Sale en Bristol, hoort hy in dieselfde geselskap as Joost van der Westhuizen en Fourie du Preez.

De Klerk was skitterend op dreef en was saam met ʼn rits ander Suid-Afrikaners die gom wat Sale aanmekaar gehou het om tot die laaste agt van die reeks deur te dring. Sale het ondanks ʼn roof- en geel kaart, ʼn oorwinning van 35 – 29 oor Bristol behaal.

 

Nadat Bristol verlede week se eerste saai kragmeting met 10 – 9 gewen het, het Sale die bordjies verhang en met ʼn gesamentlike puntetelling van 44 – 39 tot die laaste agt deurgedring.

Die vurige De Klerk het alles gedoen wat van hom verwag is. Sy aangeë was lank en suiwer, sy taktiese skopwerk puik en sy breekslae en verdediging pure goud.

Wanneer De Klerk oor ʼn paar maande koers kies na Johann Ackermann se Red Hurricanes in Japan, gaan Sale nog lang trane oor sy blondekop-breker huil.

Sale se punte is deur Lood de Jager, Akker van der Merwe, Tom Roebuck en Jono Ross (almal drieë) aangeteken, terwyl Robert du Preez met drie doelskoppe en drie strafdoele (15 punte) in die kol was.

Sale kom nou teen die wenner van Saterdag se stryd tussen Racing92 en Stade de Français in die kwarteindronde te staan.

* Leinster het ook maklik tot die laaste agt deurgedring toe hy Connacht met 56 – 20 geklop het. Leinster het ook verlede week se eerste kragmeting gewen en dring met ʼn gesamentlike puntetelling van 82 – 41 deur.

* In die Europese Uitdaagbekereeks het die Glasgow Warriors, London Irish, Wasps en Lyon tot die kwarteindronde deurgedring.

 Vrydag se uitslae:

Kampioenebeker-reeks: Sale 35, Bristol 29 (44 – 39), Leinster 56, Connacht 20 (82 – 41).

Europese Uitdaagbeker-reeks: Wasps 35, Biarritz 29, Glasgow Warriors 27, Newcastle Falcons 17, Lyon 31, Worcester Warriors 17, London Irish 64 en Castres 27.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.