Europese rugby: Bristol Bears wys tande

Argieffoto (Foto: Bristol Bears Rugby/Facebook)

Wanneer ʼn rugbyspan ʼn nuwe afrigter aanstel, is dit soos om ʼn gelukspakkie te koop… jy weet nooit wat jy daarin gaan kry nie.

Dink maar aan die Blou Bulle wat John Mitchell en Pote Human met Jake White vervang het.

Wat van die Stormers en Westelike Provinsie wat John Dobson die teuels in Robbie Fleck se plek gegee het en die Sharks wat Sean Everitt in Robert du Preez se plek aangestel het?

In Engeland het die Bristol Bears, ʼn klub wat in 1888 gestig is, die Samoaan Pat Lam in 2017 aangestel.

Bristol kon in 133 jaar nog net vier keer die Engelse tweede liga wen, maar onder Lam het hulle in 2020 die Europese Uitdaagbeker die eerste keer gewen toe hulle Toulon in die eindstryd geklop het.

Lam, wat een toets vir die All Blacks gespeel het, kon byna niks uitrig toe hy die Blues tussen 2009 en 2012 in die Superreeks afgerig het nie.

Hy is Ierland toe, waar hy by Connacht raakgevat het en teen alle verwagtinge die Europese Pro12-reeks (nou Pro14) gewen het.

In 2017 het Bristol hom gelok en nou gee dié klub die pas in die Engelse Premierliga aan.

Daar is geen Suid-Afrikaner in Bristol se groep nie, net twee Fidjiane (Semi Rabrada en Siva Naulago), die oud-All Blacks Charles Piutau en Steven Luatua, Piutau se Tongaanse broer Silae Piutau, twee Samoane en ʼn enkele Puma.

Lam behaal ongekende sukses en Saterdag het die Bears die voortou in die Engelse Premierliga geneem toe hulle Exeter Chiefs met 20-7 geklop het.

Die Premierliga is die afgelope paar weke, net soos die Pro14-reeks, erg deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery met verskeie wedstryde wat uitgestel is.

Daar was darem oorwinnings vir die Sale Sharks (met sy tros Suid-Afrikaners) wat die Worcester Warriors met 20-10 geklop het om saam met die Wasps, wat Bath Vrydagaand met 52-44 in ʼn drieëfees geklop het, tot vierde op te skuif.

Arme Gloucester, wat sonder die oud-afrigter Johan Ackermann erg sukkel, is nou laaste nadat Newcastle die Cherry and Whites met 22-10 getroef het.

Bristol (24 punte) is voor in die Premierliga, gevolg deur Newcastle (20), Exeter (20), Sale Sharks (19) en Wasps (19).

* In die Pro14-reeks gee die Ierse spanne steeds die pas aan.

Leinster het in afdeling A Ulster met 24-12 geklop, hoewel Ulster (46 ligapunte) steeds voor Leinster (42) is, wat twee wedstryde minder gespeel het

In afdeling B het Munster (37) Connacht (26 punte) met 16-10 geklop.

Ander Pro14-uitslae: Zebre 22, Benetton 18; Dragons 20, Ospreys 28; Cardiff Blues 29, Scarlets 20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.