Europese rugby: Green gʼn groentjie

Argieffoto van Tyrone Green (Foto: GB Jordaan)

Wanneer ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspeler oorsee gaan, hoop ʼn mens dat sy vaardighede, veral in vreemde toestande, sal verbeter.

Dis hoekom ʼn mens se hart warm klop wanneer spelers vinnig aanpas en dan boonop weekliks in die kollig verskyn.

Die oud-Leeus-vleuel Tyrone Green was die eerste keer dié seisoen in Harlequins se uitsoekspan en hy het dit met twee briljante drieë gevier.

Green, wat net soos Cheslin Kolbe (hy het terloops losskakel vir Toulouse gespeel) kan saampraat wanneer dit by aftrappe en systappe kom, se span is met 25-22 deur die Newcastle Falcons geklop, wat die eerste keer in drie weke gespeel het nadat twee van hul wedstryde vanweë die Covid19-pandemie afgelas is.

* Die Sale Sharks het die agterdeur oopgehou om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer toe hulle Vrydagaand die Exeter Chiefs, wat tweede op die puntelys is, met 25-20 geklop het.

Die Springbokslot Lood de Jager wat verlede week die eerste keer in maande ná sy skoueroperasie van die bank af opgestuur is, het dié keer begin en enduit gehou. Dit is beslis goeie nuus vir die Bokafrigter, Jacques Nienaber, omdat RG Snyman nog maande lank nie kan speel nie.

Saam met Faf de Klerk en Jean-Luc du Preez, wat ook begin het, en Robert du Preez, Coenie Oosthuizen en Cobus Wiese wat in die tweede helfte opgestuur is, het die Sharks deurgedruk.

* Die Bristol Bears het hul voorsprong op die puntelys vergroot toe hulle die Leicester Tigers (wat sonder die geskorsde Jasper Wiese en Hanru Liebenberg moes klaarkom), met 17-3 geklop het.

* Gloucester het slegs sy tweede oorwinning dié seisoen behaal toe hy die Worcester Warriors (met Francois Venter en Francois Hougaard in hul beginspan), met 22-14 getroef het. Johan Ackermann het agtsteman vir Gloucester gespeel en was een van die span se werkesels.

* In die Pro14 was Munster en Ulster steeds op die wenpad, maar kon Edinburgh, met Pierre Schoeman soos ʼn stormram aan die spits, nie die Walliese Scarlets klop nie.

Jaco van der Walt het tien punte vir Edinburgh aangeteken en die oud-Kings-stut Pieter Scholtz en Uzair Cassiem was in die Scarlets se beginspan.

Die naweek se uitslae: Engelse Premierliga: Bristol Bears 17, Leicester Tigers 3; Sale Sharks 25, Exeter Chiefs 20; London Wasps 10, London  Irish 16; Gloucester 22, Worcester Warriors 14; Newcastle Falcons 25, Harlequins 22.

Pro14: Cardiff Blues 11, Munster 20; Zebre 26, Dragons 15; Edinburgh 25, Scarlets 27; Ulster 21, Ospreys 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Rugby spelers nou die beste SA uitvoerproduk. Lokaal tjommel dit maar aan met die politiek en kwotas maar naweek na naweek is daar uitstekende vertonings van SA spelers op die velde van Europa wat eintlik maar ‘n internasionale verhoog is.

Piet

Geen wonder Gloucester sukkel so nie, Johan Ackermann is al bietjie oud om die begin span te haal. Dalk moes hulle maar vir Ruan laat speel het… ????