Europese rugby: Lood terug; Marcell beseer

Lood de Jager. (Foto: ANA)

Dit was weer ʼn propvol rugbynaweek, met ʼn rits Suid-Afrikaners wat die kollig tydens die Engelse Premierliga gesteel het.

Die Springbokslot Lood de Jager het Saterdag ná maande se afwesigheid vir die Sale Sharks in die Engelse Premierliga uitgedraf.

Vir die vurige agtsteman Marcell Coetzee, wat vir Ulster speel, was die nuus nie so rooskleurig nie.

Coetzee het sy knie Vrydagaand in die Pro14-wedstryd teen die Glasgow Warriors beseer. Dit nadat hy aan die einde van die Europese seisoen na Pretoria verhuis het, waar hy voortaan vir die Blou Bulle sal speel.

Ulster het met 19 – 13 gewen; Coetzee het ná rustyd nie weer sy verskyning gemaak nie.

Jasper Wiese en Hanru Liebenberg (albei speel vir die Leicester Tigers) is Saterdag met rooikaarte van die veld gestuur terwyl Jean-Luc du Preez (Sale Sharks) vir die soveelste keer ʼn geelkaart gekry het.

Marcell Coetzee. (Foto: Twitter)

Wiese het ʼn rooikaart in die 27ste minuut gekry, nadat hy met ʼn skouerloop ʼn teenstander teen die kop getref het. Liebenberg is in die 79ste minuut afgestuur, maar ondanks die twee rooikaarte, het die Tigers steeds met 27 – 8 teen die London Wasps geseëvier.

Du Preez is teen Harlequins gestraf vir ʼn soortgelyke oortreding, maar gelukkig vir hom het sy skouer nie die kop van Alex Dombrandt, agtsteman van Quins, getref nie.

André Esterhuizen, met spierwit bene, het in die middelveld vir Harlequins, wat met 24 – 12 gewen het, uitgeblink.

Afgesien van De Jager, wat sowat 15 minute gespeel het, was Robert, Jean-Luc en Daniel du Preez, Coenie Oosthuizen en Cobus Wiese ook in die Sale-verloorspan.

* In die Pro14-reeks het Munster, wat deur Johann van Graan afgerig word, Saterdagaand sy voorsprong in Afdeling B vergroot, toe hy Edinburgh in die Skotse hoofstad met 22 – 10 geklop het. Damian de Allende, Jean Kleyn en Chris Cloete was in Munster se beginspan, met Michael Willemse en Luhan de Bruin wat later opgestuur is.

Jaco van der Walt het vyf punte vir Edinburgh aangeteken en Pierre Schoeman het stewig geskrum.

* Die naweek se uitslae:

Engelse Premierliga: Harlequins 24, Sale Sharks 12; Exeter Chiefs 12, Northampton Saints 13; Leicester Tigers 27, Wasps 8; Bath 16, Gloucester 14.

Pro14-reeks: Scarlets 41, Benetton 17; Edinburgh 10, Munster 22; Connacht 32, Cardiff Blues 17; Ospreys 10, Zebre 0; Ulster 19, Glasgow Warriors 13; Dragons 29, Leinster 35.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Rugbyspelers is besig om van SA se beste uitvoerprodukte te word. Terwyl kwotas die lokale getjommel oorheers is daar week na week uitstekende vertonings deur saffas in die europese ligas. En die spelers verdien uitstekende geld menige saffas op die top vertonings en verdienste lys. Faf 500 k £ per jaar, Etsebeth 900 k £ per jaar en Pollard 1 m £ per jaar. Die du Preez broers, Coenie, Lood en menige ander is ook op die groot verdieners lys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.