Europese rugby: Saints klop Sale se amperse SA span

Argieffoto (Foto: Odd Andersen/AFP Photo)

Dis makliker gesê as gedaan, maar as jy die Sale Sharks se voorspelers kan rondjaag en hulle van besit af kan weerhou, is jy op die regte pad.

Dit is presies wat die Northampton Saints se rugbyspan Saterdag in die Engelse Premierliga gedoen het toe hulle Sale met 17-14 geklop het.

Sale (37) is steeds vierde op die puntelys, maar Northampton (35) kruip al hoe nader.

Die Bristol Bears het aan hul voorsprong behou (51 punte) nadat hulle die London Wasps Vrydagaand met 37-20 getroef het. Die Exeter Chiefs (44) is tweede en Harlequins (39) derde.

* Daar was ses Suid-Afrikaners in Sale se pak teen die Saints, met Coenie Oosthuizen wat boonop die tweede helfte opgestuur is.

Maar selfs nie eens Akker van der Merwe, Lood de Jager (hy het weer sy gebruiklike drie gedruk), Cobus Wiese, Jean-Luc en Daniel du Preez en Jonno Ross kon voorlangs beheer nie. Faf de Klerk kon ook nie sake op skrumskakel oorheers nie.

* Die Exeter Chiefs, met Jannes Kirsten (hy speel nou slot) en die flank Jacques Vermeulen vooraan, het Harlequins, wat Wilco Louw en Stefan Lewies in die opdrafspan ingesluit het, met 21-20 geklop.

* Die oud-Cheetahs-losskakel Tian Schoeman moes Saterdag blitsvinnig sy plek in Bath se beginspan inneem nadat Rhys Priestland tydens opwarming voor die kragmeting met die Newcastle Falcons beseer is.

Schoeman moes in die tweede helfte vervang word, maar nie voordat hy Bath tot ʼn sege van 38-19 aangespoor het nie.

* Die Leicester Tigers, met Kobus van Wyk, Luhan de Bruin, Cyle Brink en Hanru Liebenberg in die beginspan, het Gloucester met 20-14 geklop.

Johan Ackermann spel nou weekliks agtsteman en daar is praatjies dat die Engelse afrigter, Eddie Jones, hom in die oog het (wanneer hy vir Engeland kwalifiseer) as Billy Vunipola se adjudant, omdat hulle dieselfde waarde bied.

* In die Pro14 het Leinster, Munster, Ulster, Glasgow Warriors en Edinburgh oorwinnings behaal.

Munster en Leinster het reeds hul plekke in die eindstryd op 27 Maart bespreek, maar dit het geensins afbreek aan die ander spanne gedoen nie.

Die oud Blou Bul-stut Pierre Schoeman, was Saterdag aan die stuur nadat hy as mede-kaptein aangewys is toe Edinburgh vir Connacht naelskraap met 15-14 geklop het.

Schoeman kom van aanstaande jaar af in aanmerking vir die Skotse nasionale span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.