Europese rugby stel baie hoë eise

Die vier Suid-Afrikaanse franchises wat oor ʼn paar maande hul buiging in Europa se vergrote Pro14-reeks gaan maak, sal baie aanpasbaar moet wees, want hulle kan hul maar vetsmeer vir uiters onsmaaklike toestande en karige geriewe.

Dit is Saterdag weer bewys toe daar net drie wedstryde kon plaasvind weens die Covid-19-pandemenie.

Leinster het laat Saterdagaand in koue en reën op Thomond Park in Limerick ʼn oorwinning van 13 – 10 oor Munster behaal.

Leinster (45 ligapunte) bly dus tweede in afdeling A met Ulster (46) wat steeds die pas aangee.

Die Walliese Ospreys (27) is ver agter in die wedloop.

Net soos in die verlede, was dit ʼn kwaai armdruk tussen dié twee Ierse spanne en net twee drieë (deur Leinster se Jordan Larmour en Tadhg Beirne van Munster) is gedruk.

* Edinburgh het in afdeling B ʼn sege van 26 – 10 oor Zebre behaal.

Die wedstryd is in die Stadio Sergio Lanfranchi in Parma gespeel (Zebre se hoofkwartier met sitplek vir net 5 000 toeskouers).

Boonop kon Edinburgh se afrigter, Richard Cockerill, en die heelagter Blair Kinghorn, nie na Parma reis nie omdat hulle nog gewag het op die uitslae van hul Covid-19-toetse.

Edinburgh se dissipline het erg gelol, want George Taylor is na ʼn gevaarlike hoogvat (skouer teen die kop) met ʼn rooikaart afgestuur terwyl WP Nel ʼn geelkaart ontvang het. Nogtans kon Zebre dit nie uitbuit nie.

Jaco van der Walt (16 punte) was een van Edinburgh se helde.

* Dai Young, wat as die Cardiff Blues se nuwe afrigter aangestel is, het die eerste paar minute van die kragmeting met die Scarlets misgeloop omdat hy vier ure lank op ʼn snelweg op pad veld toe vasgekeer was ná ʼn ernstige motorongeluk.

Die Blues (26 punte) het met 13 – 10 gewen, maar bly tweede agter Munster (38 punte) in afdeling B.

* Intussen het Alex Sanderson, die nuwe direkteur van die Sale Sharks, verduidelik hoekom die 45 Suid-Afrikaners wat in die Engelse Premierliga speel, so gewild is.

Volgens hom is hulle deur die bank groot (behalwe Faf de Klerk), hulle is nederig, gaaf, vriendelik en gelowig, nie geldgierig nie en dit is baie maklik om hulle af te rig.

Volgens hom kan die spelers baie ver gedruk word en dit is nie nodig vir ʼn afrigter om sy metodes aan te pas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Ek het gister die Franse Top 14 gekyk (nogal op SABC 2). Mense, die gehalte van daai spel kan jy nie vergelyk met die gemors wat in ons CB opgedis word nie. Ek dink ons spanne gaan swaar kry in die PRO 14 ook. So terloops – ek hoop die Leeu-toer word eerder afgestel want met hierdie gehalte rugby tans in ons land gaan ons groot pakslae kry, 1974-style.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.