Europese rugby: Wie ry en wie bly

Cheslin Kolbe (Foto: PAUL FAITH / AFP

Die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, se Springbok-kudde bly in goeie Europese hande.

Eintlik is dit byna vanselfsprekend dat daar weekliks ʼn hele paar van die sowat 300 Suid-Afrikaners wat oorsee speel, die oog vang.

Maar dit kan ook maklik gebeur dat hulle deur die net glip, dat hul vaardighede nie verder ontwikkel word nie, dat hulle nie as beter spelers na Suid-Afrika terugkeer wanneer hul kontrakte uitgeloop het nie.

As dit egter by Cheslin Kolbe, Faf de Klerk, Marcell Coetzee en ʼn hele paar ander Suid-Afrikaners kom, is daar geen vrae om te vra nie.

Kolbe was Vrydagaand die soveelste keer op sy stukke toe Toulouse ʼn sege van 29 – 22 oor Ulster in die Kingspan-stadion in Belfast in die Europese Kampioenebeker-reeks behaal het.

Kolbe het twee drieë gedruk en dit laat ʼn mens opnuut wonder hoekom hy ʼn paar seisoene gelede as een van die sogenaamde weeskinders van Kaapse rugby beskou is.

Daar is toe gesê dat hy te klein is, dat sy teenstanders bo-oor hom stoomroller. Ja, dit het in een of twee Superrugby-wedstryde gebeur, maar hang verdediging nie maar van die regte houding af nie, oor die nodige selfvertroue nie?

Kolbe word nou allerweë as een van die beste uitvoerprodukte in wêreldrugby beskou en dis hoekom hy vir die Bokke goud werd is.

In Ulster se agttal het Coetzee weer uitgetroon. Daar is glo sprake dat Jake White op sy spoor is om hom na Loftus Versfeld te lok, want Duane Vermeulen se loopbaan sal die een of ander tyd tot ʼn einde kom.

Coetzee sal gemaklik by die Bulle (en Jake inpas). Groot, sterk en brutaal op die aanval.

* De Klerk se Sale Sharks is met 26 – 14 deur Toulon geklop en ʼn mens wonder of die skokbesluit van die afrigter, Steve Diamond, om verlede Dinsdag die handdoek in te gooi, nie daartoe bygedra het nie.

Nietemin het De Klerk (wat op die bank was en eers in die tweede helfte losgelaat is) weer waarde saam met Robert en Jean-Luc du Preez en Akker van der Merwe toegevoeg.

* Soos gewoonlik het Edinburgh se rits Suid-Afrikaners soos Duhan van der Merwe, Jaco van der Walt, WP Nel en Pierre Schoeman uitgeblink, hoewel La Rochelle die Skotte met 13 – 8 geklop het.

Onthou u nog vir Raymond Rhule? Wel dié oud-Bokvleuel het vir La Rochelle geskitter.

* Dan was Jacques du Plessis een van Montpellier se ysters teen Leinster, hoewel die Iere met 35 – 14 gewen het.

Net soos in die geval van Coetzee, moet Du Plessis, wat agtsteman gespeel het, huis toe gelok word voordat die Franse hom voor ons neuse weggaps.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Allop ·

Ons is bevoorreg om soveel briljante spelers oral in die buiteland te he. As die politici nie te veel inmeng nie kan ons nog lank in die nommer een posisie bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.