Europese Uitdaagbeker-reeks: Toulon straf Glasgow Warriors

Cheslin Kolbe (regs) in aksie vir Toulon se wedstryd teen die Glasgow Warriors (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Daar loop bitter min rugbyspelers in wêreldrugby rond wat meer vaardighede het as die Springbok Cheslin Kolbe.

Die kwiksilwer Kolbe, wat Vrydagaand in Dublin heelagter vir Toulon in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker-reeks teen die Glasgow Warriors gespeel het, was saam met die skrumskakel Baptiste Serin, die veteraan-agtsteman Sergio Parisse en die twee Fidjiane Jiuta Wainiqolo en Waisea Nayacalevu, die argitekte van Toulon se oorwinning van 43-19.

Kolbe se vaart van die merk af, sy lyfswaaie en systappe, taktiese skopwerk en vermoë om kanse om vir sy spanmaats te skep, was van die groot hoogtepunte.

Dit het daartoe bygedra dat die 39-jarige Parisse, die oud-Italiaanse kaptein wat in 142 toetse gespeel het, sy loopbaan in Frankryk op ʼn hoogtepunt kon afsluit.

Die Warriors was glad nie opgewasse vir die vlugvoetige, balvaardige en fisieke Toulon nie.

Toulon is reeds binne die eerste paar minute ontwrig toe sy losskakel Dan Biggar nie ʼn harsingskuddingstoets kon slaag nie, maar die Nieu-Seelander Ihaia West het sonder probleme ingeskakel.

Boonop is Serin, wat twee drieë in die eerste helfte gedruk het, ook beseer en teen rustyd vervang, maar daar was geen keer aan die Franse nie.

Glasgow kon eenvoudig nie byhou nie, hulle het swak besit ontvang en is agter die voordeellyn gestuit. Hulle het wel baie kanse gehad, maar kon nie afrond nie. Toulon het gewag dat hulle oordeel- en hanteerfoute begaan voordat hulle toegeslaan het.

Maar tog moet daar erkenning aan die afrigter Franco Smith se span gegee word. Hulle is slegs die tweede Skotse span wat in die eindstryd gespeel het.

Toulon was reeds in die eerste helfte met 21-0 voor en Glasgow kon nooit van die vroeë terugslae herstel nie.

Daar hang ook vraagtekens oor sekere spankeuses van Smith, wat sy haker Johnny Matthews, sy beste slot Richie Gray en die baljagter-flank Rory Darge op die bank gekies het. Dit het geboemerang, maar self met hulle in die opdrafspan, sou daar weinig verskil gewees het.

Die Franse het gans te veel skietgoed gehad.

Puntemakers:

Toulon 43 (21): Drieë: Baptiste Serin (2), Sergio Parisse, Jiuta Wainiqolo, Waisea Nayacalevu, Ihaia West. Doelskoppe: Serin (3), Baptiste Paillaugue (2). Strafdoel: Paillaugue.

Glasgow Warriors 19 (0): Drieë: Kyle Steyn (2), Sebastian Cancelliere. Doelskoppe: George Horne (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.