Ewe skielik wys die krake in Nieu-Seelandse rugby

Toe die Britse koningin  in 1992 in haar Nuwejaarstoespraak die gebeure van die jaar opgesom het, het sy met ʼn stroewe gesig daarna as annus horribilis verwys.

Ons het almal na die woordeboeke gegryp, hoewel die verbrokkeling van haar seun Charles se huwelik met Prinses Diana, sy verhouding met Camilla, die skade en skandes van die Hertog en Hertogin van York en die verwoestende brand by Windsor-kasteel, genoeg pitkos was om dadelik te weet wat dié Latynse frase beteken het.

Die jaar is nog nie halfpad verby nie en Nieu-Seelands rugby is op pad na sy annus horribilis.

Waar het dinge dan binne ses weke vir die wêreld se beste rugbyland verkeerd verloop?  Die All Blacks stel tog die maatstawwe vir die res van die wêreld? Hul Superrugbyspanne het die ander spanne gewys hoe om rugby te speel en almal was gerus, want die onoorwonne Crusaders was voor in die Superrugbyreeks.

Maar die krake het reeds verlede jaar in Chicago begin wys toe die Iere die All Blacks met 40-29 geklop het. Daar was ook nie genoeg kraakvuller om dit tydens die Britse en Ierse Leeus se toer toe te smeer nie. Net een voorval, toe Sonny Bill in die tweede toets afgestuur is, het die wiel laat draai en die All Blacks kon nie die reeks beklink nie.

Nou is daar ook ʼn gefladder in die duiwehok en word daar wonde gelek nadat die Crusaders nie voor op die Superpuntelys kon eindig nie. Daar word nou ook naarstiglik reisreëlings getref om dalk na Johannesburg te reis vir ʼn moontlike Superrugby-eindstryd teen die Lions op Ellispark.

Nie een van die vier Nieu-Seelandse spanne wat deurgedring het tot die kwarteindronde van die reeks is seker van hul paadjie vorentoe nie.

Dit laat ʼn mens in die mou lag, want die Kiwi’s het saam met Suid-Afrika en Australië die bisarre puntestelsel goedgekeur waar ʼn span soos die Chiefs, wat 57 punte het en 12 wedstryde gewen het, nou op Nuweland teen die Stormers (43 punte) moet  uitspeel.

Wen die Chiefs wen, moet hulle na Nieu-Seeland terugkeer vir ʼn halfeindstryd. As hulle weer seëvier, is dit dalk weer terug Johannesburg toe waar hulle teen daardie tyd weens vlugflouheid geen kans op ʼn oorwinning sal hê nie.

Ewe erg is die Hurricanes (58 punte en 12 oorwinnings) wat in Canberra teen die Brumbies (slegs 34 punte en ses oorwinnings teen swakker Australiese spanne) moet uitspeel. Die Hurricanes se tasse is gepak om van Sydney af Kaapstad toe te vlieg vir ʼn moontlike halfeindstryd.

En die Crusaders en Highlanders gaan mekaar die naweek ook trompop loop vir ʼn plek in die halfeindronde … en vir die moontlike halfeind teen die Stormers en die eindstryd wat op Ellispark wag.

Hoe sê hulle nou weer in daardie advertensie? Lekker, man, lekker!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

NZ verloor een enkele toets en speel 1 gelykop uit hoeveel en daar word gepraat van hul swak jaar. Ek dink dit bewys juis hoe ver hulle voor ander lande is. En in die superreeks wen NZ se spanne 98% van hul wedstryde teen spanne van ander lande!

Kobus Smit ·

Nee wat. NZ is almal lugjare voor. Jy sê dan self dat 4 van hulle spanne deurgaan. Kyk na hulle punte. In die 50s. Hulle is tops. Geen vlugfloute nie. Hulle gaan ons vermorsel op ons rugbyvelde

Waghond ·

Die Super Rugby reeks is uitgedien en moet dringend ‘n verjongingskuur ondergaan om relevant te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.