Exeter, Harlequins veg om die kroon

Faf de Klerk tydens ‘n vorige wedstryd teen La Rochelle in die Engelse Premierliga. (Foto: Xavier Leoty/AFP)

Was dit nog ʼn tydige wekroep of bloot die geval dat die Exeter Chiefs die bestendigste rugbyspan in die Engelse Premierliga is?

Die Sale Sharks was gelaai met sewe Suid-Afrikaners in die opdrafspan, insluitend vier van Jacques Nienaber se Springbokke vir die komende reeks teen die Britse en Iere Leeus. Tog kon hulle nie die hekkie in die halfeindronde oorkom toe hulle Saterdag met 40-30 deur die Exeter Chiefs in die een halfeindronde geklop is nie.

Exeter het met sy gevestigde spelpatroon die Sale Sharks op Sandy Park in Devon geknou.

Ja, al was daar sewe Bokke in Sale se opdrafspan, was daar eintlik geen spelbrekers agterlangs soos Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi nie. Toe Exeter eers voorlangs beheer geneem het, was dit neusie verby.

Dit is die sesde opeenvolgende keer dat die Chiefs komende Saterdag in die eindstryd op Twickenham teen Harlequins sal speel, wat teen alle verwagting in ook deurgedring het toe hulle die Bristol Bears 43-36 in bykomende speeltyd geklop het.

Die Harlequins was aanvanklik met 0-28 agter, nadat Bristol hulle gemesmeraais het met hul vaart, vinnige aangeë en hoë intensiteit.

Maar toe die brandstof opraak, het Harlequins bly veg vanuit die laaste loopgraaf en deurgedruk.

Bygesê, die Bears het teen die einde van bykomende speeltyd met net 13 man gespeel, omdat hulle reeds al hul plaasvervangers opgestuur het en daar nog twee beserings was. Hulle moes ook een drie meer as Harlequins druk om deur te dring en dit het hulle oorywerig gelaat.

*Die vier Bokke keer Sondag huis toe waar hulle saam met die res van die groep vir die Leeus voorberei. Dit kan baie vir die Bokke se voorbereiding beteken, veral die insette wat Faf de Klerk, Coenie Oosthuizen en die Du Preez-tweeling oor hul Engelse spanmaats se spelpeil kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.