Faf die ‘hartslag’ van Sale in Engelse reeks

Faf de Klerk – hartslag. (Foto: Twitter)

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk gedy eenvoudig in die Engelse Premierliga, en 14 punte het die kroon op sy vertoning Saterdag vir Sale gespan.

Nóg twee Suid-Afrikaners, Willie du Plessis (Bayonne) en Burton Francis (Grenoble), het onderskeidelik 17 en 13 punte in die Franse Pro-D2-liga (tweede vlak) aangeteken.

Verskeie wedstryde is die afgelope naweek uitgestel weens die gure weer wat Europa teister. Dit het veral die Pro14-liga geraak (gelukkig vir dié reeks was daar darem sonskyn vir sy wedstryde in Suid-Afrika), en in Wallis is ʼn enkele klubstryd beslis.

♦ Die Klerk se 14 punte het uit vier doelskoppe en twee strafdoele bestaan, en Sale het die kragmeting met 34-25 gewen.

Hy het ook ʼn hand in minstens twee van Sale se drieë gehad, en die klub se rugbydirekteur, Steve Diamond, het die Bok ná die wedstryd as die “hartslag van die span” bestempel.

Die Bok Heinrich Brüssouw (flank) het sy eerste drie vir Northampton gedruk.

Die hardwerkende Jono Ross (flank), ʼn gewese kaptein van die Bulls, het ʼn geelkaart op die lyf geloop.

Ross het intussen Lewis Ludlow as die reeks se voorste verdediger onttroon, en is nou die man wat die meeste duikslae uitgevoer het.

Jono Ross – voorste verdediger. (Foto: Twitter)

♦ Demetri Catrakilis (losskakel), wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, het sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Harlequins in sy sege van 20-5 oor Bath aangeteken.

Dit was slegs sy tweede opdrafslag vir Quins, en die eerste sedert hy van ʼn nekbesering herstel het.

♦ Saracens se Bok, Schalk Brits (haker), het een van sy klub se twee drieë teen Exeter gedruk deur ʼn rolmaalbeweging af te rond.

Exeter het met 24-12 gewen.

♦ Petrus du Plessis (plaasvervanger-stut), ʼn boorling van Hermanus, het ʼn drie vir London Irish gedruk in sy nederlaag van 16-24 teen Wasps.

Franse Top14-liga

♦ In die Franse Top14-liga het die Bok Ruan Pienaar (skrumskakel) twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir sewe punte in Montpellier se nederlaag van 29-31 teen Agen op die telbord geplaas.

Die gewese Superrugbyspeler van die Stormers, die Bulls en die Cheetahs, Johann Sadie (buitesenter), het een van die wenspan se vier drieë gedruk.

Montpellier se Paul Willemse (slot), nog ʼn gewese Bulls-speler, is met ʼn geelkaart gestraf.

Willie du Plessis – 17 punte. (Foto: Bayonne Rugby)

♦ Die Bok Willem Alberts (flank) het ʼn drie vir Stade Français teen Oyonnax gedruk.

Laasgenoemde het die kragmeting met 33-27 gewen.

♦ Nog ʼn Bok, Pat Lambie (binnesenter), het ʼn strafdoel tot Racing 92 se oorwinning van 17-13 oor Brive bygedra.

Pro-D2-liga

♦ Du Plessis, wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het ʼn drie vir Bayonne gedruk; al drie die span se drieë verdoel; en met twee strafdoele geslaag in sy span se nederlaag van 30-35 teen Beziers.

Sy spanmaat Aidon Davis (flank), ʼn gewese SA o.20-losvoorspeler en Superrugby-speler van die Kings, het een van die ander drieë gedruk.

♦ Burton Francis (losskakel) se 13-tal vir Grenoble in sy sege van 28-14 oor Dax het twee doelskoppe en drie strafdoele ingesluit.

Hy het Superrugby vir die Bulls, die Lions, die Stormers en die Cheetahs gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wesley ·

Weereens nog n speler wat uitstekende vaardigheid met voet en bal in hand gewys het tot Toetie hom beetkry en verswak het. Cronje dieselle en hopelik kry nou weer sy rugraat terug onder Swys en hopelik verder onder Rassie. Daar blink weer hoop vir SA rugby

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.