Faf en Handré steeds Bokke se skakelpaar

Handré Pollard en Faf de Klerk is weer die Springbokke se skakelpaar. Tog het almal hul lof ná die Wêreldbeker-rugbytoernooi besing. Foto: Odd Andersen.

Jacques Nienaber het sy span vir die tweede toets teen die All Blacks bekend gemaak. En ’n mens kan sommer so vanuit die staanspoor ’n paar vinnige vrae beantwoord.

Ja, Willie le Roux, Handré Pollard en Faf de Klerk is steeds in die beginspan.

Nee, Cheslin Kolbe is nie in die wedstrydgroep nie.

Ja, daar sal waarskynlik weer geskop word.

Daar is egter wel ’n verandering of twee gemaak. Ox Nché vervang vir Frans Malherbe (nekbesering) in die voorry; Trevor Nyakane sal dan na vaskop skuif, terwyl Nché die no. 1-trui sal dra.

Dan is Jasper Wiese in die plek van die beseerde Marco van Staden op die plaasvervangersbank. Hy sal hopelik saam met Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Frans Steyn vir genoeg vuur sorg om die Springbok-wa uiteindelik deur die drif te trek.

Wanneer jy in die 78ste minuut van ’n wedstryd voorloop, moet jy wen… nie verloor nie.

Volgens Jacques Nienaber (afrigter) was die Springbokke verlede week goed genoeg om die Townsville-toets teen die All Blacks te wen en juis om dié rede het hy weer eens die belangrikheid van kontinuïteit – veral wat spankeuses betref – onderstreep.

“Trevor is ’n ervare speler wat ewe op sy gemak op loskop- of vaskopstut is, terwyl Ox sy man in die skrumsituasie kan staan,” het Nienaber gesê.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

Kolbe se afwesigheid moet ’n terugslag vir die Bokke wees, veral nadat daar gehoop is dat hy genoeg van sy beenbesering herstel het.

“Cheslin sou in die beginvyftiental gewees het as hy volkome van sy besering herstel het. Ongelukkig het die besering weer laat tydens vandag se oefensessie opgevlam en ons kon hom nie kies nie.”

Nienaber sê dat Springbokke graag die Rugbykampioenskap op ’n wennoot sal wil afsluit, veral ná die teleurstelling van die afgelope drie toetse.

Tog lyk dit nie of daar veel aan die Suid-Afrikaners se spelpatroon gekarring sal word nie.

“Ons is deeglik bewus van die feit dat dit ’n reusepoging van ’n volle 80 minute sal verg, maar die wilskrag en motivering om te wen is beslis daar.”

“Verlede week het ons by ons DNS en wedstrydbenadering gebly en met ’n bietjie meer geluk kon ons die wedstryd gewen het; daarom moet ons verseker dat ons hierdie week beter is.”

Verwag dus weer ’n hele paar skoppe. Hopelik spring die bal dié keer vir die Springbokke reg.

Die wedstryd begin Saterdag om 12:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Jasper Wiese, Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Frans Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Jasper Wiese het al Meer geel kaarte gekry as wedstryde gespeel
Die mannetjie is n ongeluk wat wag om te gebeur, stuur jy hom op met 10 min oor en jy is met minder as 10 punte voor, wat in elk geval nie gaan gebeur teen NZ verloor jy die toets, want hy gaan of 2 of 3 strafskoppe af staan, of n geel kaart kry.
Die game gaan close wees, so jy Wil veral nie laat in die game strafskoppe af staan nie.
Teen Aus en NZ was dit n bewys, jy wen of verloor met 1 of 2 punte
Kan nie die besluit om hom in groep te sit verstaan nie.
Hy wen nie die bal soos n Marx nie, hy is nie n Pieter Steph du Toit nie, wat hy doen weet net die afrigters

piet ·

Kan ons beter speel? Ek dink die AB’s kan BAIE beter speel as wat ons gesien het. Ons sal sien.

koos10 ·

Ek wonder net of Nienaber vir Faf aan sy vleuls wil gaan voorstel. Hy weet sekerlik nie wie hulle is of dat hulle ook maar bietjie rugby mag speel nie.

JohanR ·

Ek glo dat Faf die bal Saterdag 200 maal gaan kry, en net 5 keer gaan skop. Die bal gaan 195 by daai twee ouens daar naby die kantlyn uitkom. Daai ouens wie se name Faf nie weet nie.

Henry ·

Jaqcues is nie bevoeg nie….punt.
En weer vir Faf laat speel….?
Hy is so voorspelbaar, en wag so lank voor hy skop, dat al die opposissie se manne lekker tyd kry om in posisie te kom.
Swak besluite, swak spel. Ons sal weer die verloor vat!

Irma ·

@ Henry, ek sal so ver gaan om te se dat daar GEEN verrrassingselement in die Springbokspan is nie.

Kobus ·

Arrogant of selfversekerd of net pleinweg…………….? FAF het teveel tierlantyntjies en kan netsowel skreeu “I’m going to kick boys”. Dit sal darem ‘n afwisseling van daai irriterende been wat so uitgestrek word dat almal weet hy gaan skop. Geen visie nie.Kom ek help Nienaber.Reinach op 9,Goosen op 10,Pollard 12 ( want Ellendig wil eintlik flank speel) Willie le Roux nie meer die beste heelagter nie.

piet ·

Jy’s laf, de Allende is een van ons beste spelers. Pollard sal ‘n mislukkig op senter wees. Sal nie soveel veld wen soos De Allende met stormram lopies nie, is ook te stadig om ‘n gaping te vat en sal waarskynlik daar OOK balle wegskop. Nee wat, raak geheel en al ontslae van Pollard en le Roux daar is beter spelers.

Dirk Mostert ·

Die Bokke was die beste met Rassie se afrigting. Dieselfde spelers onder Nienaber gaan die kreeftegang.

Frans ·

Solank jy die bal oordeelkundig dra-dra jy vyf punte.Skop jy die bal weg met die hoop dat die ander span foute sal begaan -dan dobbel jy met besit. Verstaan dus nie die taktiek dat balle wat voorspelers met moeite gewen het-vir ‘n skrumskakel gee om weg te skop.

Lyk my die tyd is verby dat afrigters agterspelers wat te veel skop laat plekke omruil met voorspelers om hul sodoende te leer dat dit harde werk is om babesit te wen in skrums en lynstane.

piet ·

Meeste rugby mense vind hierdie hoop-skop onverklaarbaar. Dis baie moeilik om te verstaan want statistieke het bewys dat die span wat skop minder as 30% kans het om die bal terug te wen. Dis ‘n swak opsie wat slegs in buitengewone gevalle gebruik kan word as afwisseling. Ons gebruik dit as ons hoof aanvalswapen. Verstommend.

SjN ·

Afrigter Nienaber se van moet verander na Nienader. Met die spelpatroon is hul aan die verloorkant.

Werner ·

Tyd dat die spelers wat agv hulle vel kleur oorsee moet speel plek kry.Dan sal hulle weer wen en die vervelige transformers n ding wys.

SlinkseKoljander ·

So ons gaan weer verlor, ek sal maar die hoogte punte op SuperSport Blits kyk later die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.