Faf meen Bokke sal beter in tweede toets vertoon

Faf de Klerk het die Springbokke se enigste drie in Kaapstad gedruk, maar ondersteuners kla omdat hy die bal te veel geskop het. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk meen dat die Suid-Afrikaners beter in die komende wedstryde sal vertoon nadat hulle die afgelope Saterdag met 22-17 teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad verloor het.

Warren Gatland se span het in die tweede helfte beter en slimmer rugby gespeel, hul lugskoppe het die Bokke deurmekaar gemaak en hul voorspelers het nie geskroom om die Suid-Afrikaners aan te vat nie.

De Klerk het die Springbokke se enigste drie gedruk, maar hy het (net soos in die Wêreldbeker-rugbytoernooi) onder kritiek deurgeloop dat hy die bal te veel geskop het.

“Die Britse en Ierse Leeus is ’n uitstekende span en sommige van die plaasvervangers is dalk selfs beter as die spelers op die veld,” het die skrumskakel gesê.

Volgens De Klerk het die Springbokke se dissipline hulle in die laaste 40 minute in die steek gelaat en hulle sal dit moet verbeter indien hulle die bordjies in die tweede toets wil verhang.

Nadat die Suid-Afrikaners die Webb Ellis-trofee in 2019 omhoog gehou het, kon Siya Kolisi-hulle net een wedstryd (teen Georgië) as die verdedigende Wêreldkampioenspan wen voordat hulle ’n toets verloor het.

“Die ouens is baie teleurgesteld omdat hulle bitter graag die eerste kragmeting wou wen. Tog bestaan die reeks uit drie wedstryde en ons sal doodeenvoudig net moet vorentoe beweeg.

“Ons is ’n trotse span en ons sal hard werk om die foute reg te stel wat ons gemaak het. Ons sal met meer vuur en aggressie speel, maar ons sal terselfdertyd dit in toom hou sodat ons nie onnodige strafskoppe afstaan nie.”

Volgens afrigter Jacques Nienaber het die Bokke se benadering in die eerste helfte gewerk en sal hulle vandeesweek agter die skerms sweet om die fiasko van die tweede helfte reg te stel.

“Dinge moet ongetwyfeld in oënskou geneem word, maar ons sal dit beslis kan uitstryk,” het Nienaber gesê.

Die Bokke se beheptheid met skoppe tydens die Wêreldbeker-toernooi het gesorg dat grapjasse die blonde skrumskakel die bynaam van “Gaan Skop De Klerk” gegee het.

De Klerk se oudafrigter by die Pumas, Jimmy Stonehouse, het destyds aan Maroela Media gesê dat ʼn mens nie die 29-jarige nommer nege vir die skopplan kan kritiseer nie, aangesien dit definitief die Bokke se wedstrydstrategie is.

Maar rugby is ’n veranderende spel en dieselfde benadering kan nie vir ewig werk nie – soos wat die Leeus Saterdag bewys het.

“Ons is met ons rug teen die muur, maar ons kan ons pad weer oopveg,” het ’n veglustige De Klerk gesê.

En ’n mens moet onthou dat baie kenners vir hom én die Bokke as die beste ter wêreld bestempel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elinette ·

Ek sien ‘n hoogvat deur die B&I Leeus se No. 15 net voor die drie gedruk is. Desnieteenstaande, ek het die B&I Leeus se oorwinning geniet, níé omdat ek nie meer ‘n Springbok-ondersteuner is nie, maar net omdat die Bokke se keuring nie meer deesdae gebaseer is op meriete nie, maar omdat transformasie aan die voorpunt staan ….

piet ·

Lostrio sal moet verander. Van Staden in, Kwakkies uit. Kaptein na agsteman. “Bomb Squad” voorspelers is onfiks en moet liewer die toets begin en dan later vervang word. Ons fikste manne moet op die veld wees teen die einde want hierdie Leeu-span is hoe later hoe kwater.

MakersMark ·

Stem. Kwagga was Leeukos in eerste toets. Van Staden beter op die breakdown asook verdediging sy algemeen spel pas die bokke se strategie. Ek sou Willie op die bankie sit en begin met Fassi wat enige bal uit gebroke spel kan omsit in punte. Frans Steyn ‘n ander potensieele heelagter. Sou met begin voorry van eerste toets bly en hul hou tot op 60 min. Sou Dweba ‘n kans op plaasvervanger haker gee. Res van “bomb squad” sal moet vinger trek anders moet Koch en du Toit maar nader staan. Kolisi in beginspan vervang hom op 55 min met Wiese. Elstadt het moeg gelyk toe hy opgekom het.

JohanR ·

Faf ek hoop jy is Saterdag op die bank vir 70 munute en Cobus Reinach is in die op hardloop 15. As ek sien jy gooi daai voet ek dan weet ek die skop kom en dan gooi ek ook iets in die sitkamer

Stefaan ·

Jip . Onoordeelkundig doellose skoppe wat hulle in ons gebied hou.

piet ·

Dis die spelpatroon, skop en jaag. Maak nie saak wie die skrumskakel of losskakel is nie, hulle speel volgens instruksies.

Elinette ·

Solank dit wat jy gooi, net nie jou TV skerm tref nie, want dan kan jy nie weer kyk hoe Faffie die Flaffie droogmaak nie!!!

SjN ·

Faf is 100 % reg met sy stelling, dan moet hy nie op die veld wees van die begin af nie en indien hy opgaan moet hy glad nie skop nie. Ons het goeie vleuels en hul kry glad nie eers die bal nie.

Tokkel ·

Skoppie Faf! Almal indie wereld ken al jou spelpatroon….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.