Faf op pad na Japan?

Faf de Klerk. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Volgens Britse mediaberigte kan Faf de Klerk binnekort sy tasse vir Japan pak waar hy tot R18,5 miljoen per jaar kan verdien.

Johan Ackermann se Red Hurricanes is waarskynlik in die binnebaan om die 30-jarige skrumskakel se handtekening te bekom.

De Klerk is ongetwyfeld een van die Sale Sharks-topspelers, maar die Engelse klub se beursie is net nie dik genoeg om ’n teenaanbod te maak nie – veral met ’n salarisplafon wat nou ingestel is.

Alex Sanderson, Sale Sharks se direkteur van rugby, sê dat die salarisstorie dinge moeilik vir die klub maak.

“Jy wil al jou topspelers behou, maar jy kan dit doodeenvoudig nie doen nie. Jy kan nie vir hulle soveel soos ’n Franse of ’n Japanse klub bied nie,” het Sanderson gesê.

De Klerk het vandeesmaand sy Sharks-terugkeer ná ’n heupbesering gemaak.

Indien hy wel eersdaags sy vliegtuigkaartjie na Japan bespreek, kan hy en Ackermann ’n paar nuwe rugbyhoofstukke neerpen: De Klerk was deel van die oud-Springbokslot se suksesvolle Lions-span wat in ’n rits Superrugby-eindstryde gespeel het.

Ja, hy word gereeld oor sy alewige geskoppery in die Springboktrui gekritiseer, maar in 2019 was De Klerk die gewildste speler onder Maroela Media-lesers ná die Suid-Afrikaners se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Japan.

Daarbenewens beïndruk hy gereeld met sy dapperheid en werkverrigting – hetsy vir die Springbokke of nou vir die Sale Sharks – terwyl teenstanders weet dat die blonde buksie vir niemand sal terugstaan nie.

  • Oorsese rugbykontrakte sorg dat Suid-Afrikaanse rugbyspelers se spaarvarkies uit hul nate bars.

Montpellier het R20,38 miljoen per jaar vir Handré Pollard se diens betaal, terwyl Toulon ook miljoene vir Eben Etzebeth (R18,34 miljoen per jaar) en Cheslin Kolbe (R17,32 miljoen per jaar) opdok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

krodedil ·

Mooi Faf. Ek dink jy en Johan Ackerman sal ‘n pad kan saamstap.
Ek wonder wat Japan vir Kolisi wat net 5min per game speel sal betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.