Faf skitter in Sale-sege

Faf de Klerk. Argieffoto.

Faf de Klerk is dalk ’n buksie agter die skrums, maar hy speel met die selfvertroue en moed van ’n Dawid teen die veel groter Goliats.

Die Springbok-skrumskakel het ’n sleutelrol vertolk in die Sale Sharks se sege van 40 -7 teen die Bristol Bears. Hy het ’n drie gedruk, die toutjies soos ’n wafferse generaal getrek, met sy suiwer aangeë beïndruk en hier en daar ’n verdediger na lug laat gryp.

Hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Die ouens se spel is effens verroes – die uwe s’n inkluis – maar ons is stadig maar seker weer besig om op dreef te kom,” het De Klerk ná die tyd gesê.

Steve Diamond se span was veral genadeloos in die eerste helfte en teen rustyd het hulle ’n gemaklike voorsprong van 26 – 7 geniet. Dit het hulle trouens net 32 minute geneem om vier drieë te druk.

De Klerk was saam met Dan du Preez, Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Coenie Oosthuizen en Akker van der Merwe in die beginspan.

Rohan Janse van Rensburg en Jono Ross is later as impakspelers ingespan.

Die Sharks is nou tweede op die punteleer.

  • Puntemakers:

Sale Sharks: Drieë: Luke James (2), Denny Solomon, Faf de Klerk, Sam James en Marland Yarde. Doelskoppe: AJ MacGinty (5).
Bristol Bears: Drie: Alapati Leiua. Doelskoppe: Tiff Eden

Punteleer (Gallagher Premiership):

  1. Exeter (59 punte)
  2. Sale (50 punte)
  3. Bristol (48 punte)
  4. Bath (44 punte)
  5. Wasps (43 punte)

Ander uitslae:

Scarlets 41 – 20 Dragons (Pro 14)

Leinster 28 – 10 Ulster (Pro 14)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Suzette

Skitterend Faf!