Fairy Heatlie kies die groen truie van die nasionale rugbyspan

Ter illustrasie. Argieffoto.

Die naam Barry “Fairy” Heatlie lui dalk nie ʼn klokkie nie, maar sy naam is verewig in die annale van Suid-Afrikaanse en Wêreldrugby, ondanks ʼn tragiese hoofstuk in sy verlede.

Heatlie, wat een van tien broers was, het tussen 1891 en 1903 in ses toetse vir Suid-Afrika gespeel en was Suid-Afrika se vyfde kaptein toe hy die span in 1903 tot sy eerste oorwinning oor Brittanje aangevoer het.

Twee van sy broers, Charles (1891) en Sydney (1903), is ook vir Suid-Afrika gekies, maar het vanweë beserings nooit toetsrugby gespeel nie.

As kaptein kon Heatlie die truie gekies het waarin Suid-Afrika gespeel het en hy het op donkergroen besluit, wat die kleure van sy skool/klub, Old Diocecans, was.

Heatlie het saam met sy gesin in 1905 na Argentinië oor slegte skuld gevlug en het in 1910 ook daar in ʼn toets vir Argentinië teen Brittanje gespeel.

Hy word as een van die vaders van Argentynse rugby beskou nadat hy baie daartoe bygedra het om rugby daar te bevorder.

Hy het op 43-jarige ouderdom uitgetree en het in 1925 na Suid-Afrika teruggekeer waar hy die res van sy lewe in Nuweland (voorstad) in Kaapstad gewoon het voordat hy in 1951 in ʼn motorongeluk omgekom het.

Heatlie het vanweë sy finansiële probleme nooit werklik die erkenning gekry wat hy op die veld verdien het nie, hoewel Wêreldrugby hom in 2009 vereer het deur hom in die Heldesaal op te neem.

Dit bring ʼn mens uit by hoe Springbokrugby gaan reageer wanneer rugby ná die Covid-19-pandemie hervat gaan word.

Ná die Eerste Wêreldoorlog tussen 1914 en 1919 het die Bokke (ja, hulle is sedert 1906 Springbokke genoem) eers in 1921 weer toetsrugby gespeel toe hulle die reeks van drie toetse met 1-1 in Nieu-Seeland teen die All Blacks gedeel het. Die Bokke, wat deur Boy Morkel aangevoer is hoewel Theo Mostert die toerkaptein was, het die eerste toets met 5-13 verloor, die tweede met 9-5 gewen en die derde toets het met 0-0 gelykop geëindig.

In 1949, nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, het die Bokke maalvleis van die All Blacks gemaak en die reeks tuis met 4-0 gewen (11-8, 9-3, 12-6 en 15-11).

Die skopskoen van die stut Okey Geffin het die deurslag gegee, hoewel die Bokke die All Blacks se meerdere op alle vlakke was.

Bygesê, die Curriebekerreeks is kort ná albei Wêreldoorloë vinnig hervat (1920 en 1946) en dit het ʼn groot rol in die Bokke se terugkeer-welslae gespeel.

Nou staan Springbokrugby weer voor dieselfde kruispad en hopelik sal die Curriebeker-reeks, wat die afgelope paar jaar afgewater is, weer daartoe bydra om Springbokrugby op die regte pad te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae