Farrell gaan op Loftus uitdraf

Saracens se Owen Farrell. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

Owen Farrell kan vir die eerste keer sedert hy besluit het om ʼn internasionale blaaskans te neem weer op die rugbyveld wees.

Volgens Mark McCall is die 32-jarige losskakel deel van Saracens se planne vir Saterdag se Kampioenebeker-kragmeting teen die Bulls op Loftus Versfeld.

“Owen is beskikbaar en hy sal die naweek speel,” het Saracens se direkteur van rugby bevestig.

“Hy is ons kaptein en ons leier. Hy word deur almal by die klub gerespekteer en om hom deel van die opset te hê is tot voordeel van elke speler.”

Farrell het ʼn paar dae gelede aangekondig dat hy ʼn breek van internasionale rugby gaan neem om sy eie en sy gesin se geestesgesondheid te prioritiseer.

Hoewel hy nog vir Saracens beskikbaar is, het hy die onlangse Premierliga-wedstryd teen die Northampton Saints met ʼn kniebesering misgeloop.

Volgens McCall verwag hy ʼn kwaai aanslag van die Bulls.

Die Pretorianers het 22 drieë in hul laaste drie wedstryde op Loftus Versfeld gedruk en kan op die vaardighede van opwindende spelers soos Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie staatmaak.

“Ek dink nie ons kan vir ʼn taaier wedstryd in die eerste ronde van die Kampioenebeker gevra het nie – ons is baie beïndruk met die Bulls se vertonings. Maar só ʼn uitdaging bring gewoonlik die beste uit ons spelers te voorskyn.”

Die wedstryd tussen die Bulls en Saracens word Saterdag om 19:30 beslis en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boksombende ·

Blaaskans? Klink amper asof hy net sy jaarlikse verlof gevat het en is nou weer terug in aksie.

Niklaas ·

Saracens mag dalks swaar leef. Die Bulle verloor nie maklik op Loftus nie. Vra maar vir die Sharks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.