Farrell neem ʼn internasionale rugbyblaaskans

Owen Farrell het aangedui dat hy ’n internasionale rugbyblaaskans gaan neem. (Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

Owen Farrell, Engeland se kaptein, gaan ʼn internasionale rugbyblaaskans neem om sy eie en sy gesin se geestesgesondheid te prioritiseer.

Dit beteken dat die 32-jarige losskakel nie deel van die Rose se Sesnasies-veldtog in 2024 sal wees nie. Hy sal egter steeds vir Saracens in Engeland se Premierliga uitdraf.

Steve Borthwick het intussen aangedui dat hy die speler se besluit ondersteun.

“Almal in die Engeland-opset ondersteun Owen se besluit ten volle. Hy is sedert sy internasionale buiging [in 2012] ʼn baie belangrike skakel in die groep en die vereistes waaraan elite‑atlete moet voldoen, is uiters uitdagend,” het die Rose se hoofafrigter gesê.

Volgens Borthwick is Farrell ʼn voorbeeldige speler en kaptein wat altyd sy beste vir sy land op die rugbyveld gee.

“Dit is ʼn moedige besluit wat hy geneem het en ons sal almal ons bes doen om vir hom die nodige ondersteuning te gee.”

Engeland se spelersvereniging (die RPA) het ook in ʼn verklaring aangedui dat hy die Engeland-kaptein ten volle ondersteun.

“Owen is nie net ʼn leier op die rugbyveld nie, maar hy is ook ʼn individu, ʼn man vir sy vrou en ʼn pa vir sy kinders. Sy gesondheid kom eerste en ons sal hom op elke tree van sy pad ondersteun.”

Farrell het die Rose reeds in 112 toetse verteenwoordig en hy is sy land se voorste puntemaker (1 237) op die internasionale verhoog.

Die nuus volg net enkele dae nadat die losskakel aangedui het dat hy nog die 2027-Wêreldbekertoernooi in Australië in sy visier het.

“Ek is mal oor wat ek doen, ek het ʼn passie vir rugby en ek twyfel of ek binnekort my voet van die versnelpedaal sal haal,” het hy gesê.

“Solank as wat ek my rugby geniet, sal ek wil aanhou speel. Ek is nie iemand wat my doelwitte op ʼn stuk papier neerskryf en gereeld daarna kyk nie, maar in my agterkop weet ek wat ek nog op die speelveld wil bereik.”

Daar is nog nie ’n spesifieke datum beskikbaar vir Farrell se internasionale terugkeer nie. Engeland speel op 3 Februarie in sy eerste Sesnasieswedstryd teen Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fran ·

Ek dink hy gaan duikskool toe om te leer om wettig te duik. Ek hoop hy tree sommer af daar.

Tjaart ·

Genadiglik sal die rugbypubliek ook ‘n blaaskans kry van Owen Farrell.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.