Farrell sê Rose het ’n taai WB-groep

Hy sê dit is ’n taai groep, maar Engeland se Owen Farrell behoort heel in sy noppies met sy span se loting vir die komende Wêreldbeker-toernooi te wees. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Owen Farrell, Engeland se vurige rugbykaptein, meen dat die Rose ’n moeilike pad na die uitkloprondes van die 2023 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk het.

Farrell-hulle het verlede jaar in die eindstryd van die toernooi teen die Springbokke verloor en hulle is onder meer saam met Japan en Argentinië vir die komende skouspel in ’n groep.

“Die wyse waarop Japan en Argentinië deesdae speel, dui daarop dat dit ’n moelike pad na die uitkloprondes sal wees,” het Farrell gesê.

“Die Pumas speel met ongelooflike passie en hulle het onlangs die All Blacks geklop. Maar daar moet nog baie water in die see loop voordat die Wêreldbeker begin. Nodeloos om te sê sal elke span na die beste van sy vermoë voorberei om uiteindelik die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.”

Eddie Jones, die Engelsmanne se afrigter, het op sy beurt ook gesê dat die span versigtig vir Japan moet wees.

Die Brave Blossoms het juis in vorige toernooie met Suid-Afrika en Ierland klaargespeel.

“Japan het ’n unieke styl en ons speel nie gereeld teen hulle nie. Ons sal dus goed moet voorberei om hul aanslag af te weer,” het Jones gesê.

Tog meen baie kenners dat die Rose maklik vir die uitkloprondes behoort te kwalifiseer.

Daarteenoor glo Skotland se Gregor Townsend dat sy span harde bene teen die Springbokke en Ierland in Groep B kan kou.

“Daar is die aanvanlike opwinding wanneer ’n mens aan die toernooi in Frankryk dink, maar dan onthou jy teen wie jy in die groepfase moet speel. Ek dink hierdie is ongetwyfeld die taaiste van al die groepe,” het die Skotse breier gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
MakersMark

Seker een van die mees arroganste spelers in wêreldrugby. Was ‘n bietjie stiller na die WB finaal in Japan in 2019. Lyk my hy begin vergeet hoe dit voel om nie eers die 2 de plek medalje te wil aanvaar nie, so groot was daai pakslae. Dalk gevoel hul moes eintlik derde geëindig het…..