Farrell-têkkel: Atkinson se seisoen dalk verby

Charlie Atkinson in aksie vir sy skoolspan. Foto: Twitter.

Die 18-jarige Charlie Atkinson, die speler wat die afgelope naweek deur Owen Ferrell op ’n uiters gevaarlike wyse platgetrek is, se seisoen kan iets van die verlede wees.

Atkinson moes Saterdag, in slegs sy tweede seniorrugby-verskyning, die veld teen Saracens met harsingskudding verlaat. Hy was ook nie deel van die Wasps-span wat gisteraand teen Leinster gespeel het nie.

Volgens The Telegraph kan Atkinson vir die volgende paar weke buite aksie wees, terwyl daar nog net drie wedstryde op die kalender oor is voordat die uitspeelkragmetings begin.

“Charlie sal niks vir die volgende paar weke doen nie,” het Lee Blackett, Wasps-afrigter, gesê.

“Ons moet na die jonger spelers omsien, veral as hulle ’n harde stamp teen die kop gekry het. Ek was in verbinding met hom en dit klink asof alles oukei is.”

Atkinson speel vir die nasionale o.18-span en ’n blink toekoms word vir hom voorspel. Hy het sy buiging vir Wasps se senior span verlede maand teen die Sale Sharks gemaak, toe hy vir Jacob Umaga vervang het.

Jimmy Gopperth, ’n Wasps-staatmaker wat al 100 wedstryde vir die klub gespeel het, het gesê dat Atkinson baie goed in die wedstryd teen Farrell se Saracens vertoon het.

Owen Farrell. (Foto: Twitter)

’n Onafhanklike tugkomitee, bestaande uit Mike Hamlin (voorsitter), Gareth Graham en Leon Lloyd, het Farrell vir vyf wedstryde geskors nadat Eddie Jones onder meer in die Engeland-kaptein se guns getuig het.

“Dit is deur die Engelse rugby-unie, die speler en die tugkomitee aanvaar dat die oortreding eerder roekeloos as opsetlik was,” het Hamlin gesê.

Sir Clive Woodward, wat die Webb Ellis-trofee saam met Engeland in 2003 omhoog gehou het, voel dat Farrell se oortreding dalk uit frustrasie met Engeland se sukkelvertoning in die eindstryd van verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi was.

“Dit het vir my soos ’n têkkel gelyk wat pleinweg deur frustrasie gemotiveer was. Dit was ’n moeilike en uitdagende seisoen vir Farrell,” het Woodward gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mauritz ·

As Farrell sy frustrasies oor sy span se sukkelvertoning op so ‘n wyse op jong spelers uithaal, moet hy liewer gaan pluimbal speel.

Hendrik Marthinus ·

Ek is verstreurd omdat ek van April nog nie my verhoging gekry het nie.
So volgens Mr Woodward Kan ek nou maar n bank beroof uit frustrasie
Gedog SA is bad lyk my in England is dit dieselfde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.